2 maande gelede
Ou ken ‘killers’
Ashton Calvert  ~ 

“EK IS ’n skelm. Ek beroof mense om vir my familie te sorg en om drugs te koop.”

Só het ’n staatsgetuie gister oor homself getuig in die moordverhoor van Damian Kammies (23), Deilon Makoppa (31), Kurt Bosman (29), Christiano Witbooi (19), Ashton Calvert (25) en Warren Steyn (24).

Hulle staan in die Baaise hooggeregshof tereg vir onder meer twee moorde en brandstigting.

Mohammed Gamieldien “Mielie” Abdullah en Deon Mathys is op 19 November 2016 vermoor.

Volgens die staatsgetuie het hy ’n polisieverklaring afgelê en ’n foto-ID-parade meegemaak nadat hy Mielie se lyk uitgeken het.

Hy het getuig hy het Kammies en Steyn daar uitgeken.

Volgens hom het hy nie ene Pokkel se gesig tussen die foto’s gesien nie.

Die getuie het gesê hy is nooit terug na sy plek in Schauderville nie omdat hy vir sy lewe vrees.

Hy is kort hierna in witness protection geplaas.

Die staatsgetuie het onder kruisondervraging aan Kammies se law­yer, adv. Chris Nel, gesê hy het nog tot voor die voorval elke dag buttons gerook.

Bloedstroom

Hy het getuig hy rook buttons al sedert die ouderdom van 13. Dit het destyds ’n uitwerking op hom gehad.

Maar volgens hom het die dagga-en-Mandrax-kombinasie later niks meer aan hom gedoen nie.

“Dis al in my bloedstroom.”

Die getuie het verduidelik toe hy die eerste keer Mandrax gemix met dagga gerook het, het sy pelle hom “Side-to-Side” genoem.

Dit was omdat hy sy bolyf en kop vooroor geleun en dit stadig heen en weer gerock het wanneer hy gerook was.

Volgens die getuie rook hy die afgelope twee en ’n half jaar nie meer buttons nie.

Hy het gesê hy het die aand voor die voorval nog saam met Mielie buttons gerook omdat Mielie nie alleen wou rook nie en oor hy Mielie tevrede wou stel.

Cops

Volgens die getuie behoort die huis waarin hy en Mielie-hulle in Schauderville gewoon het aan ’n Moslemvriend van Mielie.

Hy het getuig hy het twee weke voor die voorval by dié huis in Gideonstraat ingetrek.

Volgens hom wou Mielie nie vir China, een van die eerste staatsgetuies, by die huis hê nie omdat die cops altyd na die toe huis gekom het wanneer China mense beroof het.

Hy het getuig Mielie het aan hom genoem dat lede van die Spotbouers ook al vir China by hulle huis gesoek het.

Die getuie het gesê hy respekteer China, want China het 12 sterre en hy het 8. Volgens hom is China “groter as hy” in die tronk.

Die saak dien voor regter Glen Goosen. Advv. Mujaahid Sanden en Liesel Landman kla aan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters