7 maande gelede
Ou herleef sy hijacking-hel
Me Quan He Foto: DEON FERREIRA  ~ 

’N CHINESE man het gister sy hijacking-hel herleef toe hy in die Baaise hooggeregshof daaroor getuig het.

Me Quan He het getuig in die verhoor van Lindo­kuhle January (21), Olwe­thu Dlanga (21), Awonke Yako (20) en Lonwabo Maweni (42).

Die vierstuks ontken skuld op aanklagte van onder meer moord en roof met verswarende omstandig­hede. Die voorvalle het op 29 Julie 2016 by die Green­acres-winkelkompleks plaasgevind. ’n Honda CR-V is gebruik.

Aangekom

Fischer’s Jewellers is dié dag beroof en iemand is in die daaropvolgende skiet­voorval dood.

Quan He, wat in Johannesburg woon, het gister getuig hy het op 16 Julie 2016 met sy silwerkleurige Honda CR-V uit Gauteng na Oos-Londen getravel.

Volgens Quan He het hy op 16 of 17 Julie in die Oos-Kaap gearriveer. Hy kon nie spesifiek sê nie, want hy het om middernag of in die vroeë oggendure in die provinsie aangekom.

Hy het getuig toe hy deur Queenstown ry, het hy ’n bietjie verdwaal.

Dis toe dat hy vier of vyf mans langs die pad sien staan. Volgens Quan He het hy sy venster afgerol en die mans aanwysings na Oos-Londen gevra.

Hy het getuig toe hy weer sien, was die mans aan albei kante van sy motor.

Volgens hom het twee of drie van hulle vuurwapens by hulle gehad, terwyl nog een ’n iron rod gehad het.

Die getuie het gesê die mans het die vuur­wapens op hom gerig en hom beveel om die deur aan die bestuurderskant oop te maak.

Volgens Quan He het die mans aangedring op kontant en sy selfoon.

Hy het gesê hy het nie kontant op hom nie, maar het wel sy wit Apple iPhone ter waarde van R10 000 aan die booswigte oorhandig.

Volgens Quan He het die boosdoeners hom uit sy motor gepluk en hom twee keer met die hand deur die gesig geslaan. Hy het getuig die mans het sy mond met duct tape toegeplak. Hulle het daarna sy hande en enkels met duct tape vasgebind.

Volgens Quan He het die mans hom in sy kar se kattebak gelaai en sowat 20 tot 30 minute met hom rondgery.

Hy het getuig die mans het hom later uit die kattebak gehaal en langs die pad gelos.

“Ek het nie geweet waar ek was nie.”

Volgens Quan He het hy sowat 10 tot 15 minute gestap totdat hy by ’n vulstasie uitgekom het.

Hy het gesê op pad daarheen het hy die tape om sy enkels afgehaal.

Volgens Quan He het hy die petroljoggie gevra om die duct tape van sy mond en gewrigte te verwyder.

Hy sê hy het die selfoon van een van die ouens by die vulstasie geleen en sy pel in Oos-Londen gebel en gevra om hom te kom haal.

Volgens Quen He kon hy nie sy aanvallers se gesigte duidelik sien nie. Adv. Zelda Swanepoel kla aan.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters