3 maande gelede
Onnie gestraf ná leerder geslat is
Mali MtimaFoto: Son  ~ 

LYFSTRAF is in ’n Oos-Kaapse skool nog lank nie dood nie.

Anitha Dokotela (18), ’n 18-jarige leerder van die Hoërskool Toli in Libode, is in die hospitaal opgeneem nadat haar onderwyser haar glo by die skool bygedam het.

Mali Mtima, ’n woordvoerder van die Oos-Kaapse onderwysdepartement, sê die departement het met skok van dié voorval gehoor.

Verskriklike

Anitha is in die St. Elizabeth-hospitaal in Lusikisiki opgeneem vir behandeling.

“Die voorval het na bewering op 4 Junie gedurende die dag gebeur terwyl leerders in die klas was. Die (beseerde) leerder is later met verskriklike pyne in die hospitaal opgeneem,” sê Mtima.

“Volgens die verslag van die distriksdirekteur is albei haar bene opgeswel en sy het rooi-blou merke.”

Toe die departement hiervan gehoor het, het hy ’n span ontplooi om die saak te ondersoek en ’n voorlopige verslag het gelei tot die skorsing van die skool se onderhoof.

Die Oos-Kaapse LUR vir onderwys, Fundile Gade, het die leerder in die hospitaal besoek en hy het ook die leerder se pa ontmoet.

Gade het die pa beloof die kwessie sal tot vinnige optrede lei.

Nadat Gade na die foto’s van die leerder se beserings gekyk het, het hy aan die onderwyser gesê om lyfstraf te stop en die wet te gehoorsaam.

Die Grondwet en die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 verbied lyfstraf in skole.

“Hierdie is meer as lyfstraf – dit is aanranding met die doel om ernstig te beseer. Enige onderwyser wat hieraan skuldig is, moet aangekla word,” sê Gade.

Waarsku

Hy verduidelik as ’n voorsorgmaatreël het die departement die betrokke werknemer geskors, hangende ’n nader ondersoek.

Gade waarsku enige iemand wat die wet oortree, sal met die volle mag van die gereg te doen kry.

Die leerder is Vrydag uit die hospitaal ontslaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters