13 dae gelede
O-Kaap ‘kan nóg baie groet
NIE TEVREDE: Edmund van Vuuren sê dinge kan beter wees.Foto: DEON FERREIRA  ~ 

VRYDAG het ’n jolly atmosfeer geheers by al wat ’n skool is in die Baai toe die matrieks van 2018 hulle uitslae ontvang het.

Hier en daar was ’n hartseer matrikulant wat nie suksesvol was nie.

Die Oos-Kaapse matriekslaag­syfer vir 2018 is 70,6% – ’n verbetering van ’n stewige 5,6%.

Dit wil sê 29,4% van die leerders het gedruip.

In Nelson Mandelabaai het 2018 se matriekleerders geskitter met ’n slaagsyfer van 76,1%.

Maar daar is ruimte vir verbetering, sê Edmund van Vuuren, ’n DA-LP en die party se skadu-LUR vir onderwys in die Oos-Kaap.

“Die DA verwelkom die 5,6%-verbetering, maar ons is nie heeltemal tevrede nie, want dit beteken 3 uit elke 10 leerders het dit nie gemaak nie.”

Vir Van Vuuren wek dit kommer dat slegs 65 733 van die 106 599 leerders wat aan die begin van 2018 vir die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen ingeskryf het, hulle eindeksamen geskryf het. Hy sê in 2016 was 148 346 leerders in die provinsie vir gr. 10 geregistreer, wat beteken 82 613 leerders het intussen uitgeval.

Een van die uitdagings wat volgens Van Vuuren bygedra het tot die druipsyfer, is dat sommige leerkragte nie die inhoud van hulle vakke ken nie.

Van Vuuren meen ook daar is te veel vakante poste. Hy stel voor dat die aanstellingsprosesse hersien word.

Huiswerk

Nog ’n rede vir die onderprestasie is volgens hom dat leerders nie toegang tot die internet het nie.

“Slegs 6% van die skole in die Oos-Kaap het toegang tot die internet. Die internet help die kinders om navorsing en huiswerk te doen.”

Van Vuuren, Nqaba Bhanga, die DA se premierskandidaat, en ander DA-raadslede het Vrydag twee skole in die Baaise noordelike gebiede besoek.

Daar het hulle met leerders gepraat en gehoor wat hulle toekomsplanne is.

Van Vuuren sê dié wat nou gedruip het moenie tou opgooi nie, want daar is altyd ’n tweede kans.

“Daar is die opsie om jou antwoordstelle te laat hersien, om ’n aanvullende eksamen te skryf of om jou trots in jou sak te steek en terug te gaan skool toe.”

  • Donderdag het die minister van basiese onderwys, Angie Mo­tshekga, die nasionale matriekuitslae aangekondig.

Die Oos-Kaap is die provinsie wat die grootste verbetering getoon het.

Die Oos-Kaap se bevorderde leerders, wat hulle matriekjaar oor ’n langer tydperk voltooi het, het ’n 56,5%-slaagsyfer behaal.

Nelson Mandelabaai was negende op die lys van onderwysdistrikte wat die beste gevaar het, met sy slaagsyfer van 76,1%.

Die provinsie wat die swakste gevaar het, is Limpopo.

Gauteng het die beste gevaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters