5 maande gelede
Northerns ‘is reg vir gr. 1’s’
RUSSEL EMMANUEL  ~ 

MôRE is ’n groot dag vir gr. 1-leerders wanneer die meeste van hulle vir die eerste keer skool toe gaan.

Nog goeie nuus is dat 98% van die skole in die provinsie reeds hulle leermateriaal van die Oos-Kaapse onderwysdepartement gekry het.

By verskeie laerskole in die noordelike gebiede verloop dinge volgens plan.

Russel Emmanuel, die hoof van die Primêre Skool Arcadia, sê dinge lyk goed vir die gr. 1’s en gr. R’s.

“Hulle is baie ywerig en ons is ready to roll. Ons het ál ons leermateriaal van die onderwysdepartement ontvang.”

Hy sê 2019 se vier gr. 1-klasse is redelik vol, met omtrent 35 leerders in elke klas.

“Op die oomblik wys ons ouers weg wat nie verlede jaar hulle kinders geregistreer het nie. Daar is egter ’n waglys.”

FREDDIE HUFKIEFoto’s: DEON FERREIRA

Freddie Hufkie, die hoof van die Primêre Skool Bethvale, sê hulle is slaggereed vir die akademiese jaar.

“Die gr. 1’s en hulle ouers kom môre (vandag) by die skool bymekaar vir oriëntasie. Ons het sowat 130 nuwe aansoeke en die skool is amptelik vol.

Waglys

“Ons het ook gelukkig genoeg onderwysers, met net een pos wat nog gevul moet word.”

Hy voeg by dat hulle ál die boeke en skryfmateriaal wat bestel is, betyds van die onderwysdepartement gekry het.

Alicia Baatjes, die hoof van die Primêre Skool Sapphire Road, sê hulle is taamlik gereed vir die sowat 151 leerders.

Omtrent 40 kinders sal in elk van die vier gr. 1-klasse wees.

“Ons is gereed – ons wag net vir die kinders. Die meeste gr. 1’s was gr. R-leerders by die skool.”

Sy voeg by die aanvraag van ouers wat plek soek vir hulle kinders is steeds baie hoog.

Die skool is tans vol en die waglys is baie lank.

DIE BEGIN: ’n Vorige jaar se gr. 1-leerders by die Primêre Skool Helenvale staan reg vir hulle eerste skooldag.Foto ter illustrasie: THEO JEPTHA

“Ons onderwysposte is gevul en die onderwys­departement het verlede jaar al die skoolmateriaal afgelewer.”

Die onderhoof van die Primêre Skool Malabar, Eugene­ Serfontein, sê alles verloop vlot daar.

“Ons aansoeke is eintlik al verlede jaar afgehandel en die skool is nou amptelik vol. Vanjaar het ons 150 gr. 1-leerders, wat in vier klasse opverdeel sal wees.

“Ons het al verlede jaar ál die boeke en skryfbehoeftes van die onderwysdepartement ontvang. Ons wag net vir terugvoer oor twee onderwysposte wat gevul moet word, maar elke klas het definitief ’n onderwyser.”

Mali Mtima, ’n woordvoerder van die onderwysdepartement, bevestig hulle het al leermateriaal by 98% van die skole in die provinsie afgelewer.

Die oorblywende 2% is skole wat nie ’n stoorplek het nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters