11 dae gelede
Nog g’n teken van cop shop
Niks: Baie werk lê nog voor voordat die polisiestasie in Chatty Uitbreiding 12 klaar sal wees.Foto’s: Deon Ferreira  ~ 

DAAR is net drie weke oor voor die belofte verstryk om ’n nuwe polisiestasie in Chatty Uitbreiding 12 in die Baai te bou.

Toe Son gister by dié site was, was nie ’n enkele struktuur al sigbaar nie.

Die polisieminister, Bheki Cele, het op 8 Augustus weer ’n Baaise draai gemaak om self die site te besoek.

Hy het gesê die mediumgroot polisiestasie wat daar opgerig gaan word, sal sowat R11 miljoen kos en sal teen einde September klaar wees.

Die kontrakteur wat aan die terrein werk, Serlen Moodley, sê hulle gaan binnekort die grond van die gekose site skraap.

“Daar gaan tydelike containers opgesit word totdat die bouery klaar is. Ek kan nie sê wanneer dit gaan klaar wees nie,” sê Moodley.

“Die satellietstasie se oppervlakte is 80 meter by 80 meter.”

Inwoners van omliggende woongebiede is opgewonde oor die polisiestasie.

Hulle bel nou die Bethelsdorp-polisie wanneer crime gebeur.

Vir baie is dit moeilik om daar uit te kom omdat dit so ver is.

Nandipha Selanto (33) van Chatty Uitbreiding 12 sê hulle het definitief nog ’n polisiestasie nodig.

“Hier is baie misdaad soos rooftogte, verkragting en huisbrake. Wanneer ons Bethelsdorp bel, vat hulle tot twee uur om uit te kom.

“Ek sal veiliger voel as die polisiestasie hier is.”

Boy Steyn (56) van die informele nedersetting Qunu sê: “Ons need ’n stasie, want hier is baie gangsters.

“Hulle rob mense met gunne. As jy nie ’n smartphone het nie, dan klap hulle jou. Somtyds vat die polisie en die ambulanse heeldag om uit te kom.”

Steyn voeg by die nuwe polisiestasie sal darem binne walking dis­tance wees. Hy sê nie almal het taxi fare om by Bethelsdorp uit te kom nie.

Gilliaan Sauls (29) van Marikana sê sy sal maar kyk wanneer die polisiestasie klaar gaan wees.

“Die polisie vat nou baie lank en ons moet op die hoek gaan staan om hulle te kry. As dit donker is, is dit gevaarlik om te loop.

“Ons sal veiliger voel met die nuwe polisiestasie en ons sal daarheen kan loop om affidavits, ensovoorts, te gaan maak.”

Cele se woordvoerder, Lirandzu Themba, het teen druktyd nie op Son se navrae gereageer nie.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, die Oos-Kaapse polisiekommissaris, was gister onbeskikbaar vir kommentaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters