13 dae gelede
Nóg 3 victims verloor lewe
moord: ’n Lyk word van ’n misdaadtoneel verwyder. FOTO’S ter illustrasie  ~ 

BENDES in Uitbreiding 31 en 34 in die Baai het verlede week ooreengekom tot ’n skietstilstand.

Ten spyte daarvan het ’n aantal voorvalle van geweld elders in die Baai plaasgevind. Drie mense is in afsonderlike voorvalle vermoor.

In die jongste voorval is die lyk van ’n onbekende man gister in die vroeë oggendure op die hoek van Kaapweg en Rinkstraat aangetref.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê die slagoffer is vroeër gesien waar hy van Rinkstraat se kant af oor die pad hardloop.

Hy het na bewering toe iemand in Kaapweg van sy selfoon beroof.

Naidu sê onbekende mense het die rower toe agternagesit. Toe hulle hom in die hande kry, het hulle hom wreed aangerand en vermoor.

Volgens Naidu het die voorval Saterdag omstreeks 23:30 plaasgevind.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en ’n moorddossier is aangelê.

Enigeen met inligting kan AO Johan Raubenheimer by 074 430 6048 skakel, of Hume­wood se po­lisiekantoor by 041 504 5019.

In nog ’n voorval is die lyk van ’n onbekende man Vrydag omstreeks 21:45 in Militaryweg in Sentraal, Port Elizabeth, aangetref.

Naidu sê in dié stadium is dit nog onbekend wat aanleiding tot die voorval gegee het.

Volgens haar ondersoek cops by die Humewood­polisiestasie ’n moordsaak.

Enigeen wat die polisie kan help om die man te identifiseer of wat weet wat die omstandighede rondom die voorval is, kan ook vir Raubenheimer of die Humewood­-polisiestasie skakel.

Lyk

Intussen soek cops van die Bethelsdorp-polisiestasie verdagtes nadat die lyk van ’n 45-jarige man Vrydagoggend in ’n straat aangetref is.

Naidu sê luidens polisie-inligting het die gemeenskap omstreeks 10:10 die polisie laat weet van ’n lyk wat in Hickorystraat lê.

Die slagoffer is gevind met ’n skietwond in die kop.

Sy sê die omstandighede rondom die voorval is in dié stadium nog onbekend.

Hulle het ook nog geen verdagtes nie.

Naidu sê die slagoffer is uitgeken as Daniël Rossouw van Arcadia in die Baaise Northerns.

’n Moorddossier is aangelê.

Tolvrye

Enigeen wat die polisie met die ondersoek kan help, word gevra om die Bethelsdorp-polisiestasie by 041 4043 005 te skakel.

Andersins kan hulle na hul naaste polisiestasie gaan of die polisie se tolvrye Stop Misdaadnommer bel by 086 001 0111.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters