17 dae gelede
‘NMBM se sake lyk beroerd’
droewige saak: Nqaba Bhanga (DA) sê dinge lyk sleg.Foto: MARYKE LOW  ~ 

DIE Nelson Mandelabaai-munisipaliteit (NMBM) is op die rand van ’n ekonomiese ramp.

Dit is weens die geprojekteerde onder-invordering van R2,6 miljard vir die 2020-’21-boekjaar.

Volgens Nqaba Bhanga, DA-leier in die Oos-Kaap, het dié inligting in die Metro se Covid-19-responsplan aan die lig gekom.

Die responsplan is aan die regering se portefeuljekomitee vir samewerkende regering en tradisionele sake voorgelê.

Volgens Bhanga het die NMBM bevestig vir die 2019-’20-boekjaar gaan onder-invordering na verwagting R670 miljoen bereik.

Hy sê bykomend daartoe is R750 miljoen van die na­sionale tesourie se befondsing vir grants terughou.

Dis omdat die NMBM nie voorskrifte eerbiedig wat geïmplementeer moet word voordat die geld vrygestel kan word nie.

Volgens Bhanga lyk dit asof die NMBM geen plan in werking het met betrekking tot hoe die effek versag gaan word nie.

Hy sê tot nou toe is daar nog geen Covid-19-uitgaweverslag aan die NMBM se raad voorgelê nie.

Bhanga sê hy gaan nou ’n skrywe aan die tussentydse mayor, raadslid Thsonono Buyeye, rig.

Daarin wil hy versoek dat die NMBM met die nasionale tesourie moet skakel om die betaling van uitstaande toelae te bespreek en om die normstelling vir die begroting te bespreek.

Gebring

Hy wil ook vra dat die NMBM se begrotingsmoniteringsforum maandeliks moet vergader.

Dit moet wees om uitgaweverslae te evalueer en sodat die begrotingsbestuurskomitee – wat uit verteenwoordigers van verskillende partye saamgestel is – weer op die been gebring kan word.

Bhanga sê dié belangrike komitee het nog nooit vergader sedert die nuwe administrasie die leisels van die regering oorgeneem het nie.

Marlon Daniels van die Patriotic Alliance (PA) wil weet wie die DA is om te sê die Covid-19-uitgaweverslae is nog nie aan die raad voorgelê nie as sy lede nooit raadsittings bywoon nie.

Daniels sê: “Die laaste keer dat die DA council meetings bygewoon het, was drie of vier maande gelede.”

Volgens hom was daar tydens die lockdown twee of drie council meetings. Hy sê die DA het nie een van dié meetings bygewoon nie.

Volgens hom moet die DA sy sake mooi agtermekaar kry. Hy sê die uitlating oor die R750 miljoen is onwaar.

Volgens hom is ’n begrotingsvergadering Dinsdagaand gehou. Hy beklemtoon die DA moet sy feite reg kry.

Mongameli Bobani, UDM-leier in die Oos-Kaap, sê alle munisipaliteite is ekonomies hard geslaan deur Covid-19.

Hy wys uit die NMBM is nie immuun hierteen nie.

Volgens hom beteken dit nie die NMBM is op die rand van ’n ineenstorting nie.

Bobani sê as alle partye die belange van die gemeenskappe eerste stel, kan die NMBM op ’n gesonde ekonomiese voet staan.

Volgens Bobani is sy party gekant teen die nasionale tesourie wat munisipale toelae terughou.

Hy sê die nasionale tesourie moet net deal met immateriële kwessies wat die wanbesteding van geld veroorsaak het en hy moet ander meganismes instel om die situasie reg te stel.

Gereageer

Bobani sê as daar byvoorbeeld wanbestuur, bedrog of korrupsie is, moet die NMBM diegene wat daarby betrokke is, verantwoordelik hou. Dit moenie ’n kwessie wees waar die toelae weerhou word omdat diegene wat verantwoordelik is, wegkom met moord terwyl onskuldige inwoners suffer nie.

Gift Ngqondi, die ANC se provinsiale woordvoerder, het gistermiddag nog nie op Son se navrae gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters