Verlede jaar
Nié ’n kleurling
IN VLAMME: Die Khoisan-aktivis Christian Martin en ander Khoisan-lede het afskeid geneem van hul “kleurlingskap” deur hul ID-boekies te verbrand.Foto’s: LYNN WILLIAMS  ~ 

MET hul identiteitsboekies wat in vlamme opgaan, het lede van die Khoisan-gemeenskap gister finaal afstand gedoen van die kleurling-klassifikasie.

Die Khoisan het besluit om die ID-boekies, wat hulle nog as kleurlinge klassifiseer, op simboliese wyse te verbrand om eer te betoon aan wyle oudpres. Nelson Mandela op sy 100ste verjaardag.

Mandela het in 1960 uit protes teen rassisme sy dompas verbrand.

Crawford Fraser, ’n Khoisan-hoof, het gesê die Europeërs het die Khoisan kleurling begin noem om hulle te marginaliseer en te verneder.

“Ons staan vandag hier en ons verklaar dat ons die afstammelinge is van die Khoi en die San. Ons is nié kleurlinge nie.

“Dié dat ons die ID-boekies verbrand, dien as bewys van hoe ernstig ons is om dié stigma – wat aan ons opgedwing is – te laat vaar.”

Hy het ook gesê die Khoisan soek nie die woord “kleurling” op enige van die amptelike vorms nie.

Fraser het die uitlating wat wyle Marike de Klerk, vrou van oudpres. FW de Klerk, destyds oor bruin mense gemaak het, tot afgryse van die skare aangehaal.

De Klerk het bruin mense as “leftovers” beskryf.

“Jy weet, hulle is ’n negatiewe groep ... ’n nie-persoon.

“Hulle is die mense wat oorgebly het nadat die nasies uitverkies is.

“Hulle is die res,” het sy glo gesê.

Christian Martin, ’n lid van die Khoisan, het gesê hulle voel die ID-boekies is ’n soortgelyke dompas wat bruin mense verhoed om werk te kry, want op geen vorm staan daar “Khoi” of “San” geskryf nie.

“Ons, die Khoisan, doen finaal afstand van ons kleurlingskap. Die voorbeeld wat hy (Madiba) gestel het, is wat ons nou doen.

“Nelson Mandela het Khoi-bloed in hom gehad, en ons voel dat dit ons ook na vore kan help. Mag sy siel in vrede lewe.”

Deon Mervin Spandiel, nog ’n Khoisan-hoof, het gesê: “Hulle dink omdat ons blou oë en gladde hare het en Engels kan praat, is ons nie Khoisan nie.”

Spandiel het benadruk dat DNS-uitslae dien as klinkklare bewys daarvan dat die Khoisan wel bestaan.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters