13 dae gelede
Net sommige op straat is paraat
Baaienaars is nog nie paniekbevange oor die corona-virus nie.  ~ cnn.com

DIE krematorium in die Baai is gereed indien daar enige sterfgevalle as gevolg van die corona-virus sou wees.

Tans is daar geen rede tot paniek in die vriendelike stad nie. In die Oos-Kaap is nog net twee gevalle aangemeld.

Een van die werkers by die krematorium het aan Son verduidelik hulle kan tot 12 mense per dag veras.

Die man, wat anoniem wil bly, sê hulle het gister ver­gader oor ’n moontlike toe­name in die getal lyke.

By die Psigiatriese Hospitaal Elizabeth Donkin word streng maatreëls toegepas om die pasiënte veilig te hou.

Son is nie toegelaat om die perseel binne te gaan nie.

Die sekuriteitswag het gesê die minimum getal besoekers per pasiënt word toegelaat.

Teen druktyd kon ’n woordvoerder van die gesondheidsdepartement nog nie vir kommentaar opgespoor word nie.

Baie van die haweloses met wie Son gesels het, sê hulle is bewus van die virus, maar hulle glo nie dit sal hulle tref nie.

Joseph Mabie, wat in die pad naby die lughawe sit, sê hy weet nie daarvan nie.

Pieter Vos sê hy is bang vir ’n totale lockdown, want hoe gaan hy dan sy geldjie maak om brood te koop?

Regan Potgieter sê hy is baie bang vir die virus, want dit maak mense dood.

Hy sê die owerhede moet ’n plan maak voordat ’n hele klomp mense sterf.

Althea Jantjies, wat in Newton Park se strate haar bestaan maak, sê sy glo nie aan die virus nie en stel ook nie daarin belang nie. “Ek weet nie wat dit is nie, maar ek dink nie dit is skadelik nie.”

Haar vriendin Valencia McMaster glo alles kan met die hulp van die Here oorwin word.

“God sal ons deur hierdie donker tyd lei,” het McMaster vol vertroue gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters