11 dae gelede
Naakte lyk in veld skok

HY HET kaal langs sy rolstoel gelê in ’n veld.

Dít is die toneel waarop inwoners van Rocky Ridge gisteroggend afgekom het langs Bethelsdorpweg in die Baaise noordelike gebiede.

Dit is onduidelik hoe Romeo Swartbooi (46) oor­lede is, aangesien daar blykbaar geen oop wonde aan sy lyf is nie.

Die post mortem sal die doodsoorsaak bepaal.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê: “Die polisie het na bewering omstreeks aguur vanoggend (gister) gereageer op ’n klag van ’n lyk wat in ’n oop veld in Soudienweg, Uitbreiding 27, Bethelsdorp, lê.”

Sy sê voorts dat die oorledene ’n parapleeg was, met albei bene wat afgesit is. Hy het alleen gewoon en met ’n rolstoel rondbeweeg.

“ ’n Dossier vir ’n geregtelike nadoodse ondersoek is geopen en ons wag vir die post mortem se resultate,” sê Naidu.

Van die familielede wou nie met Son praat nie, maar Frida Hansen, Swartbooi se tannie, het ’n bietjie meer uitgewei.

Hansen sê Swartbooi het epileptiese aanvalle gekry, en dis vermoedelik waarom sy bene geamputeer is.

Volgens haar het Swartbooi vroeg in verlede jaar pap gemaak in sy huis toe hy glo ’n fit gekry het.

Op ’n manier het hy sy bene erg gebrand.

Sy sê ’n vorige keer het hy self sy huis aan die brand gesteek.

“Vandag was hy reg en môre nie,” vertel die tannie.

Swartbooi was in ’n sta­dium in Cheshire Homes, maar hy het teruggekeer huis toe om alleen in sy plek in Rocky Ridge te woon.

Die gemeenskap het hom altyd gehelp en gekom as hy hulle geroep het om hom te help in sy rolstoel.

Joy Tiervlei, wat in dieselfde straat woon, sê sy het gereeld vir Swartbooi nuwe gordyne opgesit en sy plek skoongemaak omdat hy so alleen sukkel.

Dit is onduidelik waarom Swartbooi nakend in die veld gelê het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters