11 dae gelede
‘My vriend het dit als gedoen’
bots met gereg: Riyaad Salegie gister in die Baaise hooggeregshof. Foto: deon ferreira  ~ 

DIE man van Malabar wat van die moord op Bhaven Moodley en die verkragting van ’n bejaarde vrou aangekla word, het gister in die Baaise hooggeregshof op al ses aanklagte teen hom onskuldig gepleit.

Riyaad Salegie (27) staan ook tereg vir huisbraak en roof met verswarende omstandighede.

Hy het skuldig gepleit op huisbraak met die doel om te steel en diefstal.

Gister is Salegie se pleitverduideliking aan die hof voorgelees. Hy gee daarin sy weergawe van wat op die betrokke dag gebeur het.

Gekonfronteer

Die klagte spruit uit ’n voorval op 17 Januarie 2016 toe Salegie glo ingebreek het by die huis van sy vermeende rape-slagoffer.

Die vrou was in haar kamer toe sy glo aangerand en later verkrag is.

Moodley was in sy kamer toe Salegie hom na bewering gekonfronteer het.

’n Gestoei het uitgebreek en Moodley is vermoor.

Salegie het glo die huis omgedolwe en in een van die slagoffer se Mercedes-Benz-voertuie gevlug met ’n kluis waarin juwele en goue muntstukke was. ’n Plasma TV-stel is ook gesteel.

’n Dag later het die cops inligting oor ’n gesteelde swart Mercedes-Benz ontvang.

In Somerstrand het die cops ’n voertuig gewaar wat dié beskrywing pas.

Die polisie het navraag gedoen en Salegie is in hegtenis geneem terwyl hy op pad was na die voertuig.

Hy het die motorsleutels in sy hand gehad. Die voertuig het nie nommerplate gehad nie.

Daar is toe vasgestel die voertuig behoort aan een van die slagoffers in die huis.

Salegie, van Haworthiarylaan, het in sy pleitverduideliking beken hy was in die huis omdat ’n vriend hom gevra het om by ’n huis in Crammerstraat in te breek. Dit was nadat hulle in ’n ander vriend se huis brandewyn gedrink het.

Luidens die pleitverduideliking wou die vriend goud in Moodley se huis steel om dit vir dwelms te verkoop.

Die vriend het klapmusse en handskoene verskaf, maar die handskoene was te ongemaklik en Salegie het dit nie gebruik nie.

Salegie het bygevoeg hulle het toegang tot die huis verkry deur die elektroniese ga­ragedeur, wat buite werking gestel is.

Hy het verder verduidelik hy het waggestaan, maar het later die vriend by die trappe op gevolg.

Hy sê hy het ’n vrou hoor skree en iemand in die gang sien lê. Hy het geluide soos thumping bass music gehoor en dit het later stil geword.

Volgens hom het hy by ’n kamer ingegaan en gesien hoe die vriend Moodley met elektriese kabels vasbind. Hy het gehoor hoe Moodley oor en oor die vriend se naam op ’n groaning manier sê.

Salegie sê hy is weer na die garage, en met sy terugkeer na die kamer het hy met sy hand op ’n glastafel gedruk om op Moodley te check.

Hy is terug garage toe nadat ’n vrou by Moodley se walk-in closet uitgekom en gegil het.

Hy het daar gewag totdat die vriend vir hom die sleutels van ’n Mercedes-Benz van 2012 gegee het. Die vriend het ’n plasma-TV by hom gehad.

Salegie het saam met die vriend in die Mercedes-Benz geklim en na Parliamentstraat in Sentraal gery.

Adv. Ishmet Cerfontein, staatsaanklaer, het gesê die staat aanvaar nie die pleitverduideliking nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters