Verlede jaar
‘My seun was vredeliewend’
GESKOK: Fina Jonas vertel hoe sy gevoel het toe sy besef haar seun, Richard Cross, is doodgeskiet.Foto’s: theo jeptha  ~ 

“DANKIE, my ma,” was Maandag Richard Cross (45) se laaste woorde aan Fina Jonas (66) nadat hy sy kar, ’n grys VW Polo, by haar huis in Rocky Ridge skoongemaak het.

Cross, Jonas en haar man, Stanley, se oudste kind, is later omstreeks 21:30 in die nabygeleë Lodersingel naby die informele nedersetting Riemvasmaak doodgeskiet.

Kapt. Johann Rheeder, ’n polisiewoordvoerder, het gesê Cross en ’n vriendin het in sy VW Polo gesit. Die motor was in die straat geparkeer.

“Twee onbekende mans, een met ’n vuurwapen, het die voertuig genader.

“Hulle het albei slagoffers uit die motor beveel en versoek dat hulle op die grond lê,” het hy gesê.

“Die man is deursoek terwyl hy op die grond gelê het en is twee keer geskiet.”

Rheeder het gesê die Polo is op die toneel gelos en die verdagtes het te voet gevlug.

Die motief bly onbekend. Volgens Rheeder word ’n moordsaak ondersoek.

Stanley het gister aan Son vertel dat hulle al geslaap het toe hul dogter Maandagaand baie dringend aan die deur kom klop het.

“Sy het gesê ons moet oopmaak, want Richard is geskiet.”

Fina voeg by dat hulle toe vinnig na die toneel gegaan het, want hulle het gedink hy leef nog.

“Maar toe wil hulle ons nie toelaat daar nie en die polisie het gesê ons moet eerder wegbly.

“Een van die polisie-offisiere het na ons toe gekom en gesê: ‘Mevrou, jammer, u seun het dit nie gemaak nie.’

“Ek was nie kalm nie. Ek het nie geweet hoe om te voel nie. Dit het gevoel ek is in ’n ander wêreld.

“Ek het dit nie verwag nie, want hy was mos nie ’n gangster nie.”

Fina voeg by dat die skieters haar seun se ring, horlosie, karsleutels en selfoon gevat het.

Jonas het voorheen by Continental gewerk, maar het daar klaargemaak.

“Hy het nie nou gewerk nie.”

Sy beskryf hom as ’n vredeliewende mens.

Stanley voeg by dat hy baie geskok is omdat sy seun ’n voorbeeldige lewe gelei het.

Die egpaar het bygevoeg dat die meisie by wie hy was toe hy doodgeskiet is, nie sy girlfriend is nie.

“Sy loop altyd hier verby.”

Benewens sy ouers laat Cross ook ’n 18-jarige seun en ’n broer en suster agter.

Fina het bygevoeg dat hulle nog nie begrafnisreëlings kon tref nie.

’n Familielid het vertel hoe Cross onlangs by al sy familie gaan kuier het.

“Dit was amper asof hy afskeid geneem het,” het sy bygevoeg.

By Son se besoek aan die vriendin se huis was niemand tuis nie.

GESKOK: Fina Jonas vertel hoe sy gevoel het toe sy besef haar seun, Richard Cross, is doodgeskiet.Foto’s: theo jeptha
SAD: ’n Hartseer Stanley Jonas sit met ’n foto van sy seun, Richard Cross.
Jabu MabuzaFoto: Netwerk24
Richard CROSSfoto verskaf

’n Buurman het gesê hy is glad nie verbaas oor die skietvoorval nie en het die vinger gewys na die hokke by Riemvasmaak as ’n rede vir wat gebeur het.

Hy het vertel dat iemand onlangs in dieselfde straat in die kop gesteek is.

Hy het bygevoeg dat een van die huiswinkels ’n gewilde bymekaarkomplek is vir vermeende kwaaddoeners.

“Hulle rook okkapyp daar en luister nie na die Pakistani’s wie se winkel dit is nie.

“Ek was in dié jaar al twee keer by die polisiekantoor om te vra dat hulle patrollies doen, maar tot nou toe het dit nie gebeur nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters