Verlede maand
Mob moker ou plat ná stories
VOOS: Die “tikkop” lê uit-pype nadat woedende gemeenskapslede hom bygekom het.  ~ Foto Verskaf

’N VERMEENDE tikkop het na bewering sy ma, ouma en gestremde broer verkrag.

’n Moerige mob het die man (34) te lyf gegaan. Die cops moes hom red.

Die voorval het Woensdagaand in Arcadia in die Baai gebeur, maar kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê hulle het geen rekord van die voorval nie.

Die man, na bewering ’n berugte tikkop in sy buurt, is daarvan beskuldig dat hy sy ma (55), ouma (79) en 20-jarige gestremde broer verkrag het.

Maagpyne

’n Antie van die verdagte het vroeër Woensdag na die Bethelsdorp-polisiestasie gegaan en gesê hulle gaan die man leed aandoen as die cops hom nie arresteer nie.

Sy antie vertel: “My ma (die verdagte se ouma) het gekla van maagpyne, want my neef het haar, my suster en haar seun verkrag toe hy nie geld vir tik in die hande kon kry nie.

“Hulle was te bang om klagte teen hom te lê en ek en ’n vriend is toe na die polisiestasie om dit onder hul aandag te bring.”

Sy sê die polisie het onderneem om aandag aan die saak te gee.

“Ek bly al 20 jaar met hierdie klong, wat voorgee dat hy mental problems het, maar dit is nie so nie.

“Hy tik en raak mal wanneer hy dit crave. Hy sal in ’n pot kos spoeg – net om seker te maak niemand eet dit nie.

“Wanneer ons daaroor kla, word ons aangerand. Hy het onlangs sy ma toilet toe gesleep en haar forseer om met ’n teelepel water uit die toiletpot te drink.”

Die antie sê die einste tikkop het in 2016 haar shack afgebrand.

“Dit het my gedwing om saans met ’n mes te gaan slaap om my teen hom te beskerm.”

Een van die buurt se vroue vertel toe hulle het dadelik na die tikkop gaan soek toe hulle van die skok-gebeure te hore kom.

“Ons het hom by sy huis gaan soek, maar hy het daarin geslaag om te ontsnap.

Beskerm

“In die weghardlopery het hy geval en hy is gevang.

“Die mense wou hom aan die brand steek, maar toe kom die polisie.”

Die ouma wou by Son se besoek nie oor die voorval praat nie.

“Ons wil nie met die media praat nie. Dit is ’n privaat kwessie hierdie.

“God gaan ons beskerm,” was ál wat sy wou sê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters