20 dae gelede
Misdadigers steur hulle nie aan prez
bedroef: Denise Olifant probeer haar kleinkinders, Daneil en Chaneil, troos.  ~ Verskaf

DIE lewe van ’n ma van twee minderjarige kinders is die naweek tragies kortgeknip toe ’n booswig haar van haar selfoon wou beroof en haar toe doodgeskiet het.

Dit is asof pres. Cyril Ramaphosa se woorde verlede week nie ingesink het nie.

Juis in sy boodskap aan die land het hy genoem dat die toename van moorde en veral die geweld teen vroue soos ’n tweede pandemie is wat die land in sy greep het.

Die dogters van die slagoffer, Shantell Olifant (31) van Arkansasstraat, Mission­vale in die Baai, is maar net 10 en 15 jaar oud.

Haar hartseer ma, Denise (53), sê Shantell het die huis Saterdag skuins voor 05:00 verlaat om na haar niggie in Okavangostraat te gaan.

Denise sê die oomblik toe Shantell by haar niggie se yard instap, het ’n booswig haar oorrompel om haar selfoon te steel.

Volgens Denise het haar dogter terugbaklei en dis toe dat Shantell se aanvaller haar geskiet het.

Denise sê sy het twee skote tot in haar huis gehoor en kort daarna toe kom een van die familie se kinders by haar aan om te sê Shantell is so pas geskiet.

Gebel

Denise sê sy het gegil en onmiddellik uit die bed gespring. Sy sê sy was erg deurmekaar.

Volgens haar het sy eers haar oudste seun, Kurt (35), gebel om hom te vertel wat gebeur het.

Denise sê sy het toe haar krukke gegryp en afgesit na die misdaadtoneel.

Volgens haar het Shantell op haar rug gelê. Sy het in daardie stadium nog geleef.

Denise sê sy kon dit nie vat om haar dogter so te sien nie.

Volgens haar kon sy haar weens die oorweldigende skok ook nie so ver kry om tot by haar dogter te gaan nie.

Volgens Denise het Shantell die hele tyd gesê sy het baie pyn.

Denise sê kort daarna het die ambulans opgedaag.

Volgens haar is Kurt saam hospitaal toe. Sy sê so skuins voor 06:00 het Kurt haar laat weet Shantell is oorlede.

Volgens Denise huil Shantell se kinders, Chaneil (15) en Daneil (10), aanhoudend oor hul ma.

Denise sê toe Kurt later terugkeer na haar huis, het hy Shantell se selfoon saamgebring.

Die cops van die Algoapark-polisiestasie doen ’n beroep op inwoners om hulle te help om die verdagte op te spoor.

Benewens die moord op Shantell, was hy later betrokke by ’n tweede ernstige misdaad waarin ’n man beroof is.

Search

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê omstreeks 04:45 het ’n getuie wakker geword van geweerskote.

Toe sy by die venster uitloer, toe sien sy haar cousin Shantell Olifant buite langs die venster lê.

Volgens die getuie was ’n man geklee in donker skoene met wit Puma-strepe daarop en ’n donker broek en donker baadjie besig om die slagoffer te search.

Naidu sê die man het Shantell se bottel drank gegryp en in die rigting van Arkansasstraat gehardloop.

Naidu sê sowat vyf minute later het dieselfde verdagte ’n onbekende man in Arkansasstraat genader.

Volgens haar was die verdagte gewapen met ’n vuurwapen en hy het die man probeer beroof.

Dossiere

Sy sê ’n gestoei het uitgebreek. Volgens haar kon die klaer daarin slaag om die booswig te overpower en hom te disarm.

Naidu sê so tussendeur die scuffle het ’n skoot afgegaan, waarna die verdagte weggehardloop het.

Dossiere van poging tot moord en poging tot roof is geopen.

Volgens Naidu het die polisie beslag gelê op ’n donkerblou Puma-tekkie met wit strepe daarop, ’n 9 mm-pistool waarvan die reeksnommer afgevyl is, drie selfone en twee bottels alkohol.

Enige een met inligting oor die misdade word gevra om AO Errol Kleinhans by die Algoapark-polisiestasie te bel by 041 401 1061 of 083 243 4567.

Anders kan mense die polisie se Stop Misdaad-oproepsentrum ook bel by 08600 10111 of kontak die naaste polisiestasie.

Volgens Naidu is dit inbellers se reg om anoniem bly.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters