5 maande gelede
Misdaad in northerns: 6 toegekap
 ~ 

AG VUURWAPENS en ses mense toegekap.

Dít is die suksesse wat die polisie sedert Donderdag in die Baai se Northerns behaal het.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê die jongste voorval was Maandag toe die polisie 15:00 inligting oor vuurwapens by ’n huis in St. Jude-straat, ext. 28, Bethelsdorp opgevolg het.

“Twee vuurwapens is in die slaapkamer gevind en ’n 35-jarige man is gearresteer en word aangehou,” sê sy.

“Een van die vuurwapens is in Junie 2018 by die Humewood-polisiestasie as gesteel aangemeld. Die ander vuurwapen se reeksnommer is afgevyl.”

Die verdagte verskyn binnekort in die hof.

Die polisie-suksesse het Donderdag begin toe die beamptes 10:30 ’n grys VW Golf in William Slammert-­rylaan in Bethelsdorp gestop het.

“Terwyl hulle die voertuig genader het, het drie van die vier insittendes uitgeklim.

“Die vierde persoon, wat agterin gesit het, het in die voertuig gebly.

Gepatrolleer

“Soos die cops die voertuig genader het, het die ver­dagte (26) ’n vuurwapen onder die sitplek weggesteek.

“Daar is toe beslag gelê op die pistool en die verdagte is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.”

Net 20 minute later het die beamptes in Siyazama-straat, Timothy Valley, gepatrolleer toe hulle­ sien hoe ’n tienerseun uit ’n huis se tuin in Khawuleza-straat kom.

“Die beamptes het hom gevolg en toe hy die polisievoertuig sien, het hy by ’n erf ingehardloop. Terwyl hy probeer het om die huis binne te gaan, het die polisie hom gegryp.

“Die beamptes het gesien hy gooi ’n silwerkleurige voorwerp deur die veiligheidshek in die huis en ’n .38-rewolwer is in die huis gevind.”

Die 17-jarige verdagte is gearresteer vir die onwettige besit van ’n vuurwapen.

In nóg ’n voorval 14:30 dieselfde dag het beamptes twee mans gesien wat oor ’n oop stuk veld in Scholtz-straat stap. “Een van die mans het die polisiebeamptes dopgehou. Toe hulle deursoek is, is ’n rewolwer in sy besit gevind.”

Die 18-jarige verdagte is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ’n vuur­wapen en ammunisie.

En in die vierde voorval (18:55) het die polisie vyf mans in Gondola-singel in Palm Ridge opgemerk.

“Een van die mans is ’n berugte misdadiger na wie die polisie gesoek het vir ’n rooftog wat vroeër die dag uitgevoer is. Toe die polisievoertuig stilhou, het een van hulle senuweeagtig geword en probeer hardloop.

“Toe hy in hegtenis geneem word, het hy ’n 9 mm-pistool op die grond gegooi.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters