4 maande gelede
Meisie sê oor skote op ou
Neville van Belling  ~ Deon Ferreira

’N MA het gister huilend getuig hoe haar boyfriend, die pa van haar kind, in September 2018 vlak voor haar oë koelbloedig afgemaai is.

Die beskuldigde, Neville van Belling van Helenvale, pleit in die Baaise hooggeregshof onskuldig op onder meer twee moordklagte, twee klagte van poging tot moord en twee klagte van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Een van die twee slagoffers – Shane Williams – se girlfriend het gister getuig sy en Williams het saam in ’n huis in Helenvale gewoon.

Opgestaan

Volgens haar het Williams drugs verkoop vir ’n inkomste. Sy sê voorts hy was lid van die Upstand Dogs-bende.

Sy het gister getuig die oggend van 30 September 2018 het Williams omstreeks 07:45 uit die bed opgestaan en gesê hy gaan vir ’n walk.

Volgens haar is sy kort hierna ook na buite waar sy en ’n vriendin aan die gesels geraak het.

Die getuie sê Williams het in daardie stadium ’n paar treë weg van haar gestaan met sy rug na haar gedraai.

Volgens die getuie het sy – toe sy haar kop oplig en regs af in die pad kyk – vir Van Belling en nog ’n manspersoon in die pad afgestap sien kom.

Die ma getuig: “Toe hulle nader is, toe sê ek vir Shane: ‘Hier kom Neville.’ ”

Volgens die getuie het Williams hom nie aan haar comment gesteur nie.

Sy sê sy het Williams bedag gemaak op Van Belling se teenwoordigheid in die omtrek omdat hy en Van Belling op Maandag 24 September ’n uitval gehad het.

Volgens haar weet sy nie waaroor die betrokke uitval gegaan het nie.

Sy sê ál wat sy weet, is dat Van Belling ná die uitval vir Williams gesê het “hy sal sien”.

Sy getuig Van Belling en die manspersoon het voor Williams gaan staan.

Volgens haar het Van Belling met Williams gepraat, maar sy kon nie uitmaak waaroor hulle praat nie.

Sy sê Van Belling het in ’n stadium sy arm na Williams uitgestrek, maar sy kon nie sien of hy vir Williams iets gee nie.

Die getuie sê terwyl Van Belling en Williams besig was om te praat, het die manspersoon ’n paar treë weg van hulle af beweeg.

Volgens haar het Van Belling toe agter Williams gaan staan.

Afgevuur

Sy sê toe hy ’n vuurwapen uitpluk, het die manspersoon begin weghardloop.

Die getuie sê dis toe dat Van Belling een skoot in die manspersoon se rigting afvuur.

Volgens haar het Van Belling ná dié skoot die gun in Williams se rigting gepoint en hom twee keer in die rug geskiet.

Sy sê Van Belling het toe voor Williams kom staan en hom een keer in die bors geskiet.

Volgens die getuie het sy na Williams gegaan en by hom gaan sit toe hy in die straat neergeval het.

Sy sê sy het Williams gevra of hy oukei is.

Volgens die getuie het Van Belling ’n paar treë weg van haar en Williams kom staan.

Sy sê Van Belling het die gun toe in hulle rigting ge­point en nog skote op haar en Williams gevuur.

Volgens die getuie weet sy nie of enige van daardie skote Williams getref het nie.

Die getuie sê hierna het Van Belling in die straat af gedraf.

Sy getuig ’n groep ouens het Van Belling toe daar met klippe bestook.

Volgens haar het nóg skote afgegaan terwyl die ouens besig was om Van Belling met klippe te bestook.

Die getuie sê voor die voorval het sy Van Belling vir sowat sewe tot agt maande geken.

Volgens haar woon Van Belling nie ver van hulle af nie en het sy hom elke dag gesien.

Die getuie sê verder Van Belling is ’n lid van die NTB-bende.

Die saak dien voor regter Elna Revelas.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters