13 dae gelede
Meeting weer 'n mislukking
Buyelwa Mafaya  ~ 

DIE mosie van wantroue in Mongameli Bobani, burgemeester van die Nelson Mandelabaai Munisipaliteit, het weereens misluk.

Dit volg omdat dié mosie glad nie eers aangehoor is op Maandag se spesiale raadsvergadering nie.

Hierdie vergadering is gepetisioneer deur 117 van die 120 raadslede en die petisie is aan die speaker, Buyelwa Mafaya, oorhandig. Dit het haar verplig om ’n dringende raadsvergadering byeen te roep.

Aanvanklik sou die vergadering op 17 Oktober plaasvind, maar dit is uitgestel weens veiligheidsredes toe raadslede dreigemente ontvang het.

Maandag was ál die raadslede in die raadsaal. Dit het egter uitgekom dat talle raadslede, insluitend die onderburgemeester, Tshonono Buyeye, weer gedreig is met hulle lewe as hulle teen Bobani sou stem.

Gevolglik het die ANC, AIC en EFF hulle aan die petisie onttrek.

Mafaya het regsadvies gaan inwin en ná ’n ruk die raad laat weet die petisie is “incompetent”.

Daarna is die vergadering agter geslote deure voortgesit waartydens die aanstelling van die finansiële hoofbeampte en uitvoerende direkteurs hanteer sou word.

Toe die deure egter weer oopgaan, het hulle g’n sulke besluite geneem nie.

Die raadslede het die advokaat wat aanvanklik die regsadvies aan Mafaya gegee het, se oordeel bevraagteken.

Die DA het aangedring dat Mafaya weer advies kry – dié keer van ’n senior advokaat.

Dié advies het gelui dat as die meerderheid raadslede hulle voor die vergadering aan die petisie onttrek het, die vergadering on­reëlmatig byeengekom het.

Platgeval

Die opposisie het baklei en gesê dis slegs die EFF wat voor die vergadering onttrek het, terwyl die ANC en die AIC deur die loop van die dag die besluit geneem het.

Dis tóé dat Mafaya glo uit die raadsaal geloop het.

Die vergadering het dus platgeval.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters