Verlede jaar
Mayor besoek ouers in rou
L-Jay Peterson (9)FOTO VERSKAF  ~ 

DIE burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro het eergister belowe hy sal die familie van klein L-Jay Peterson (9) help.

L-Jay van Gelvandale in die Baai se Northern Areas is Dinsdag 13:45 oorlede nadat ’n munisipale voertuig hom getref het.

’n Brandweerwa het hom in Standfordweg in Wind­vogel doodgery toe hy die pad oorgesteek het.

Verkeer

Die mayor, Mongameli Bobani, onderburgemeester, Tshonono Buyeye, hoofsweep, Bicks Ndoni, speaker, Buyelwa Mafayi, raadslid Luyolo Nombola en burgemeesterskomiteelede het L-Jay se ouers gister in Algoa­park besoek.

L-Jay, wat ’n gr. 3-leerder aan die Primêre Skool Republiek was, was op pad huis toe.

Hy het die pad begin oorsteek glo nadat ’n skolier­patrollie die verkeer reeds gestop het.

Volgens omstanders het die brandweerwa ewe skielik sonder sirenes in die IPTS-buslaan aangejaag gekom.

L-Jay is op die toneel dood verklaar nadat dit hom getref het.

troos: Mongameli Bobani (links) praat met Lionel Peterson, terwyl speaker Buyelwa Mafayi (regs) vir Sharon Williams (naasregs) vashou.
so jammer ... Bongameli Bobani, betoon sy meegevoel met Sharon Williams. Haar seun, L-Jay, is Dinsdag dood in ’n padongeluk.Foto’s: deon ferreira

Die ironie van die ongeluk is dat dit L-Jay se droom was om eendag ’n brandweerman te word.

Sy ouers, Lionel Peterson en Sharon Williams, het gister­ met die begrafnis­ondernemer gereël dat L-Jay eers volgende Saterdag begrawe word.

Dis omdat hulle tans nie kan bekostig om vir die hele begrafnis te betaal nie.

Lionel het aan Bobani-hulle gesê dis omdat hy nou eers drie maande terug is by die werk ná ’n groot operasie.

Bobani het beloof om te help.

Hy het aan Lionel en Williams gesê: “Ons treur saam met julle. Dis ’n pyn wat nie sal weggaan nie.

“Dit was nie opsetlik nie; dit was ’n ongeluk. Ons is ook hier om jammer te sê oor wat gebeur het.

Bobani het aan Son gesê: “Ek het my kantoor reeds aangesê om die voorval te ondersoek.

“Raadslid Nombola sal ’n verslag daaroor opstel en dan sal ons kyk hoe ons die familie kan help.”

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisie­woordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

’n Munisipale woord­voerder, Kupido Baron, sê: “Dit blyk dat een van ons beamptes op pad was na ’n noodgeval toe die tragiese ongeluk plaasgevind het.”

Bobani is gevra of munisipale noodvoertuie in die IPTS-buslane mag ry of nie, maar hy wou hom glad nie daaroor uitlaat nie.

Williams sê sy sal die saak nie net daar laat nie: “Ons wil net geregtigheid hê. So, ons gaan ’n eis indien.”

L-Jay sou sy tiende verjaardag Dinsdag gevier het.

’n Gedenkdiens sal dan vir hom gehou word op die toneel­ waar hy gesterf het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters