20 dae gelede
Mans wat ouma rape, sit lank
reg geskied: Twee mans van Elliot is lewenslank tronk toe gestuur na hulle ’n ouma voor haar kleinkinders verkrag het.Foto verskaf  ~ 

DIE twee mans van Elliot in die Oos-Kaap wat ’n ouma (80) voor haar jong kleinseuns verkrag het, gaan vir ’n baie lang tyd in die tronk sit.

Siphesihle Walaza en Wanda July, die beskuldigdes, is Maandag in die Grahamstadse hooggeregshof skuldig bevind en gevonnis.

En die regter het hulle omtrént swaar gestraf.

Walaza het lewenslange tronkstraf gekry vir verkragting, 15 jaar vir roof en 5 jaar vir huisbraak.

July is 12 jaar tronkstraf opgelê vir verkragting, 10 jaar vir roof en 5 jaar vir huisbraak.

Voordat die regter hulle gevonnis het, het hy aan die hof gesê dat die twee nie enige berou getoon het nie en geen respek vir bejaardes het nie.

En daarom is ’n lang vonnis gepas.

Volgens AO Moitheri Bojabotseha, ’n polisiewoordvoerder, het die mans op 3 Desember 2015 omstreeks 04:00 by ’n huis in die Takalani-lokasie in Elliot ingebreek.

“Hulle het geld geëis van ’n 80-jarige vrou, wat saam met haar 10- en 2-jarige kleinseuns in die huis was.”

Mishandel

Die ouma wou nie geld gee nie en die eerste man het haar toe met ’n mes gedreig en in die bobene gesteek.

Daarna het hy haar seksueel mishandel – en dít terwyl sy haar jongste kleinkind op haar rug gehad het.

Die ander ou het haar ook seksueel mishandel, en toe hulle klaar was, het hulle van die toneel af gevlug.

Die ouma het ’n saak van verkragting, huisbraak, diefstal en roof by die Elliot-polisiestasie gaan maak.

Bojabotseha sê die 10-jarige seun kon die twee boewe gelukkig identifiseer omdat hulle in dieselfde gebied as hy gewoon het.

Albei mans is daarna gearresteer en die saak is na die streekshof verwys. En daar het dit vir twee jaar op die hofrol gebly.

Dis tóé dat adv. Nickie Turner ingegryp het.

Sy was in die Elliot-streekshof vir administrasiedoeleindes toe sy die slagoffer en haar 10-jarige kleinseun in die hof sien sit.

Turner het met hulle ’n onderhoud gevoer en besluit om die saak na die Grahamstadse hooggeregshof te neem.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters