25 dae gelede
Man vas vir vrou verkrag en aan die brand steek
 ~ 

'N Man van Gelvandale wat na bewering ‘n vrou verkrag en aan die brand gesteek het, verskyn Dinsdag in die landdroshof in Port Elizabeth.

Die 27-jarige man is Sondag deur die polisie se bende-eenheid in hegtenis geneem.

Volgens kol. Priscilla Naidu, ‘n polisiewoordvoerder, is die slagoffer nog nie uitgeken nie. 

Sy sê polisielede is in Korsten in Durbanweg deur 'n taxibestuurder gestop en in kennis gestel van 'n half kaal, bebloede man.

Volgens Naidu is die man by 'n nabye hospital aangekeer en later in hegtenis geneem op aanklag van verkragting en moord.

Naidu sê items wat in die verdagte se besit gevind is, kan met die slagoffer verbind word.

Sy voeg by gemeenskapslede het omstreeks 16:50 die polisie in kennis gestel van 'n brandende liggaam naby 'n stortingsterrein in Van Duurenstraat.

“Die vrou se lyk was vasgebind met ‘n draad en sy was onherkenbaar verbrand.”

Vroeër die dag is 'n saak van 'n vermiste 21-jarige vrou by die Gelvandale-polisiekantoor aangemeld. 

Die vrou is laas op 26 Desember omstreeks 21:00 gesien toe sy haar huis in Rinkhout straat verlaat het. Dit moet nog vasgestel word of die vermiste person die slagoffer is. – News24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters