3 dae gelede
Ma van alle fights
Beseer: Natasha Smit praat oor Saterdag se fight.  ~ Deon Ferreira

URE nadat die Bokke die land herenig het met die Wêreldbekersege oor Engeland, het twee Baaise ma’s kwaaivrinne geraak en mekaar moer toe geslaan.

Natasha Smit (33) van Jacksonville in die Baai moes steke bo en onder haar linkeroog kry nadat sy met ’n bierglas in die gesig geslaan is.

Denise Jantjies (45) is ook erg gekrok. Sy’t ’n seer lyf en haar kakebeen is gedislocate.

Volgens Smit, ’n ma van twee, het sy en haar vrinne Saterdagoggend vroeg reeds begin suip. Sy sê so ’n paar uur later het sy en die pelle in Almondstraat afgestap.

Volgens Smit het Jantjies in daardie stadium by antie Linda September (64) verder af in Almondstraat gekuier.

Smit sê net toe hulle verby September se huis stap, toe wink Jantjies vir haar.

Volgens Smit het ’n familielid van Jantjies wat ook in daai stadium by September se huis gekuier het, skielik voor haar kom staan.

Dit het vir haar gelyk asof hy haar boul (aanlê by haar).

Smit sê toe sy die familielid aanspreek, toe chip Jantjies in en vertel haar haar for­tune.

Volgens Smit het Jantjies haar beveel om te shut up. Toe breek die hel los.

Smit sê sy het Jantjies toe ’n snotklap gegee.

Sy sê toe hulle begin stoei en mekaar se hare beetkry, wou September keer.

Smit beweer dis toe dat sy September per ongeluk teen ’n kas stoot en September “unconscious” op die vloer val.

Volgens Smit het Jantjies vinnig in die harwar die laaste bietjie bier opgeslurp wat nog in haar glas was en haar toe met die leë glas in die gesig geslaan dat die bloed spat.

Smit sê toe Jantjies se familielid inspring om die fight te stop, toe klou sy nog aan Jantjies se hare. Smit vertel toe haar tjommies inkom, toe los sy vir Jantjies.

Kort nadat Smit en haar vriende September tot op die bed gehelp het, het sy volgens Smit aangedui Jantjies-hulle moet loop. Smit sê sy het kort hierna buite gaan sit omdat die bloed by haar gesig afgestroom het.

Volgens haar het vriende ’n T-shirt om haar gesig gebind om die wond toe te hou. ’n Neighbour het haar Livingstone Hospitaal toe geneem. Sy is later­ oorgeplaas na die Provinsiale Hospitaal in die Baai.

Smit vertel sy is Maandag uit die hospitaal ontslaan.

Volgens September is haar rug nou nog seer van die val teen die kas.

Toe Son Jantjies nader om kommentaar, was dié ma van twee nog in erge pyn. Die trane het oor haar wange gebiggel toe sy vertel van die pyn.

Volgens Jantjies het als vinnig gebeur. Sy admit sy het ’n paar doppe ingehad en Smit met die glas geslaan. Sy sê sy sukkel om te praat oor haar kaak in die fight gedislocate is.

Volgens Jantjies is haar hele lyf in pyn en sy sukkel om haar te was. “Ek het al so baie Grand-Pa’s gedrink vir die pyn, maar dit help niks.”

Jantjies het Son ’n blou kol onder haar linkerarm gewys wat sy na bewering in die fight opgedoen het.

Volgens Jantjies voel dit soms of haar mond ná die fight skeeftrek. Boonop sit sy heelnag regop in die bed omdat sy nie kan slaap nie.

“Ek gaan nie ’n saak maak nie. My fokus is eerder op my kinders,” sê sy nou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters