12 dae gelede
Ma hoor hoe seun verkool
TRAGEDIE: Nozizwe Roxa het haar seun en ál haar besittings in die brand verloor.  ~ Mkhuseli Sizani

DAAR is seker niks hartverskeurender as om hulpeloos te moet hoor hoe jou kind skreeu en deur vlamme verswelg word nie.

Gisteroggend is vir ewig vasgebrand in die geheue van die 60-jarige Nozizwe Roxa, wat magteloos moes toekyk hoe haar seun, Xola (33), in ’n shack verkool.

Inwoners van Jaagvlakte in die Baai het die vlamme vergeefs met emmers water probeer blus, maar dit was nie genoeg om Xola se lewe te red nie.

’n Platgeslane Nozizwe vertel die laaste keer dat sy haar seun gesien het, was Woensdagaand. Hy het sy bord kos kom haal by haar suster se huis, waar sy geslaap het.

“Tussen middernag en eenuur Donderdagoggend het ek voetstappe gehoor en die honde gehoor blaf. Toe ek uitgaan om te gaan kyk wat aangaan, het ek gesien my shack is in vlamme.”

Sy sê sy het na haar seun geroep. Inwoners het gesê sy moenie worry nie, want hy is nie in die shack nie.

Maar oomblikke later het sy hom in die brandende shack gehoor skreeu.

Nie lank daarna nie het sy na bewering gehoor hoe sy skedel kraak.

Benewens dié tragedie moet Nozizwe binnekort na Pretoria reis vir haar suster se begrafnis.

“Ek is gebroke. My oudste suster, Nolizwe, word Saterdag (môre) in Pretoria begrawe, en nou het dít gebeur.

“Die evil brand het my seun opgeëet. Ek kan nie glo dat ’n kers soveel skade kon aanrig nie. Daar was nie eens paraffien in my shack nie,” prewel sy.

Nozizwe sê sy het alles in die brand verloor. Sy weet nie hoe sy vir haar seun se begrafnis gaan betaal nie.

“Xola was die een wat los joppies gedoen het om die pot aan die kook te hou.

Voorsien

“Ek het maar laas maand 60 geword. Ek moes nog aansoek doen vir ’n staatspensioen.

“Ek het ál my klere en ál my meubels in die brand verloor. Al wat ek oor het, is die klere wat ek nou aan my lyf het.”

’n Gemeenskapsleier, Khaya Makalima, sê as die Nelson Mandelabaai-Metro hulle lankal van water voorsien het, sou hulle in staat gewees het om die brand betyds te blus.

’n Polisiewoordvoerder, kapt. Sandra Janse van Rensburg, sê die oorsaak van die brand is onbekend. Hulle het ’n dossier vir ’n geregtelike doodsondersoek na die voorval geopen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters