2 maande gelede
‘Lyk' kom klop aan deur
Stiek uit: Bianca van Heerden het nege jaar ná haar begrafnis lewend opgedaag.  ~ 

NEGE jaar gelede moes sy ’n lyk uitken en haar oudste dogter begrawe.

En Saterdag het Jane van Heerden (58) die skok van haar lewe gekry toe die einste dogter, Bianca(30), by haar ma se huis in Arcadia in die Baai opgedaag het. Spring­lewendig en gesond.

Dit is tóé dat Jane besef dit was nooit haar dogter wat in Augustus 2009 in ’n ongeluk dood is nie. Nee, haar dogter was in Klerksdorp in Noordwes, waar sy gaan werk het.

Jane onthou nog hoe sy die tyding gekry het dat haar dogter “dood” is. Iemand het haar gebel om die liggaam by die Gelvandale-lykhuis te gaan uitken.

“Ek weet nie hoe lank die liggaam daar was nie, maar dit was moeilik en ek was deurmekaar.

“Die lyk het volgens die mense daar ’n tjappie op die een arm gehad, en my dogter nie.

“Ek het gekyk vir die lit­tekens op my kind se arm van toe sy in 2005 in ’n ongeluk was, maar het dit nie gesien nie,” sê Jane.

Die onsekerheid het haar mal gemaak. ’n Dokter het toe van haar bloed getrek om te probeer vasstel of sy en die slagoffer verwant is aan mekaar.

Hulle het nooit die toetsuitslae ontvang nie.

Jane het as ’n enkelma glad nie die finansies gehad om ’n DNS-toets, wat toe sowat R1 500 gekos het, te laat doen nie.

“Ek het toe van my polisgeld gebruik om die begrafnis te reël. Sy is in die Bethelsdorp-begraafplaas begrawe. Ek het nooit weer na die graf toe gegaan nie,” vertel ’n bewoë Jane.

Bonani Jacob, die opsigter van die Bethelsdorp-begraafplaas, het bevestig Bianca is op 22 Augustus 2009 begrawe.

“Nege jaar lank het ek pyn en lyding ervaar. Ek was siek en moes tot my werk los.

“Ek kon nie eet nie. Maar ek was steeds onseker (oor my dogter se dood),” sê Jane.

Bianca sê sy het in 2009 net uit die huis gegaan en gaan werk soek. Sy het by ’n vriendin in Klerksdorp gaan bly.

“Dis waar ek die pa van my kind ontmoet het en ons bly nou saam in Noordwes,” verduidelik Bianca.

Bianca erken sy was ’n rukkie in die tronk daar, maar wou nie daaroor uitwei nie.

Dis Amptelik: Selfs Bianca van Heerden se identiteitsdokument sê sy is oorlede.
raaisel: Die opsigter van die Bethelsdorp-begraafplaas, Bonani Jacob, wys die graf waar Bianca van Heerden volgens hulle rekords begrawe is. Foto’s:Deon Ferreira
bad memories: Jane van Heerden sê sy is deur pyn en lyding die afgelope nege jaar wat sy gedink het haar dogter is dood.
Stiek uit: Bianca van Heerden het nege jaar ná haar begrafnis lewend opgedaag.

Sy het die nommer van haar ma se buurvrou uit haar kop geken. “Ek het baiekeer gebel, maar daar was geen antwoord nie. Ek het eenkeer my antie in die hande gekry, maar toe sê sy vir my ek is dan dood,” vertel Bianca.

Jane het van die oproep te hore gekom, maar kon dit nie glo nie omdat sy dan haar dogter begrawe het.

Saterdag was vol trane en drukkies. Jane vertel sy het van blydskap en hartseer begin huil en haar kind heeltyd vasgehou.

“Toe ek teruggekom het, het niemand in die straat my herken nie, maar ek het hulle herken. Die mense hier noem my nou ‘die dooie vrou’,” sê Bianca met trane in haar oë.

Help

Vandag sukkel Bianca om geboorte­dokumente vir haar kind te kry en sy ontvang geen grants van Sassa nie. Dít omdat sy oral amptelik dood verklaar is.

“Ek was al by home affairs en by social workers, maar hulle kan my nie help nie.”

Teen druktyd het Ncebakazi Qalase van home affairs nie op Son se navrae gereageer nie.

Dis nou ’n raaisel wie se lyk ses voet onder die grond lê in daardie begraafplaas.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters