11 maande gelede
Lyfstraf al meer toegedien –verslag
Themba KojanaFoto: netwerk24  ~ 

LYFSTRAF in Suid-Afrikaanse skole is blykbaar aan die toeneem.

Dit is luidens statistieke wat verlede maand deur die South African Council for Educators (Sace) bekend gemaak is.

Sace het bevestig in die afgelope boekjaar was daar landwyd 593 klagtes van lyfstraf. Minstens 265 sake van lyfstraf is ook ondersoek.

In die Oos-Kaap was daar 29 klagtes, maar die Wes-Kaap het voorgeloop met ’n reusagtige 286 klagtes.

Dit is gevolg deur KwaZulu-Natal (89), Gauteng (70), Mpumalanga (48), Vrystaat (27) en Noordwes en Limpopo met 25 klagtes elk.

In die 2014-’15-boekjaar het Sace bevind 586 lyfstrafklagtes is landwyd gemaak.

Die Saturday Star berig Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, meen onderwysers, nes kinders, is onderhewig aan druk wat deur gewelddadige gemeenskappe geskep word. “Skole is net klein voorstellings van gemeenskappe. Onderwysers vind dit moeilik om kinders, wat deur geweld gesosialiseer is, te beheer.

“Die kinders vind dit nie moontlik om vreedsame instruksies te volg nie,” het Motshekga verduidelik.

Sy meen onderwysers wat in gemeenskappe met ’n hoë voorkoms van geweld woon, glo geweld is die beste manier om dissipline toe te pas.

Motshekga het bygevoeg dis nie genoeg om onderwysers te wys op wat hulle nie mag doen nie, aangesien sommiges steeds lyfstraf toepas.

Volgens haar moet skole ondersteun word deur inligting te verskaf oor ander metodes van straf uitdeel. Mo­tshekga het bygevoeg verskillende oortredings verdien verskillende vorme van straf.

Die graad van die straf moet dus by die graad van die oortreding pas.

Voorvalle

Die Oos-Kaapse onderwysdepartement (OKOD) het onlangs sy ontevredenheid uitgespreek oor verskeie gevalle van lyfstraf by skole in die provinsie.

Themba Kojana, die superintendent-generaal van die OKOD, het einde Augustus gesê daar was voorvalle in die voormalige Transkei, asook die onderwysdistrikte Mount Frere, Nelson ­Mandelabaai en Oos-Londen.

Volgens Kojana is die toepas van lyfstraf in sommige Oos-Kaapse skole ’n vernedering vir die departement en die provinsie.

The Herald het in Augustus berig oor lyfstraf by die Hoërskool KwaMagxaki in die Baai.

In ’n video op die koerant se webtuiste kan gesien word hoe ’n manlike onderwyser drie matriekseuns verskeie kere oor hul hande moker met wat soos ’n plastiekpyp lyk.

Kojana het bygevoeg dat die departement van Mandla ­Makupula, die LUR vir onderwys, ondersoeke doen by alle probleemskole en daar sal gevolge wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters