20 dae gelede
‘Lol-ou’ cops toe oor huis
WOEDE: Die man wat van die lollery met minderjariges beskuldig word, het ’n klag gelê oor die afbreek van sy huis.  ~ Theo Jeptha

DIE persoon wie se huis tot op die grond afgebreek is deur woedende Arcadia-inwoners het ’n klag van kwaadwillige saakbeskadiging by die polisie gelê.

Hy word daarvan beskuldig dat hy vyf minderjarige kinders gemolesteer het.

Die man het na bewering aan die polisie gesê hy het skade van R250 000 gely.

Gelukkig was hy ten tyde van die voorval nie by die huis nie, want die inwoners het gesweer as hulle hom in die hande kry, sal net ’n bloedkol van hom oorbly.

Hulle wou juis weet hoekom hy dan nou polisie toe hol nadat die kindertjies se toekoms na bewering verwoes is.

Die kinders, van wie die jongste slegs vier jaar oud is, sukkel om te slaap en van hulle kry angsaanvalle.

Hulle kry tans berading by die Dora Nginza-hospitaal. ’n Donasielys is opgetrek om hul ouers te help met vervoergeld wanneer hulle vir berading gaan.

’n Petisie met meer as 200 name is ook opgetrek, want die gemeenskap sê hulle soek die man nie meer daar in die area nie.

Hofsaak

’n Polisiewoordvoerder, kol. Priscilla Naidu, sê niemand is nog in verband met die voorval van saakbeskadiging in hegtenis geneem nie.

Dit is steeds nie duidelik hoekom geen hofsaak teen die man begin is nadat die cops hom aanvanklik toegekap het nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters