Verlede jaar
Lewenslig in straat gedoof
hartseer:Geraldine Julies sê sy het geweet iemand wil haar kind uithaal.  ~ 

’N JONG pa se lewe is die naweek kortgeknip toe hy op pad was na ’n taverne toe om entjies te gaan koop.

Rijaad Goosen (26) van Arcadia is Vrydagaand in Oosthuizenstraat noodlottig gewond.

’n Erg getraumatiseerde Geraldine Julies (43), Goosen se ma, is nou nog geskok oor haar oudste seun se skielike dood.

Sy vertel hulle het Saterdagoggend maar toevallig uitgevind van Goosen se heengaan.

“Vrydagaand het ons gehoor iemand is geskiet, maar ek het nie gedink dis Rijaad nie, want hy was vyf minute voor die skietery nog hier by die huis.

“Ons het nie regtig gepraat nie, maar hy was heeltyd in die omtrek.

“Gewoonlik het hy oor naweke na my ma in Gelvan­dale toe gegaan en dan Sondag of Maandag teruggekom, so ek het gedink hy is miskien daarheen.”

Langs Geraldine sit Mario Julies (46), haar man en Goosen se pa. “Die tyd toe die skietery gebeur het, het ek so ’n snaakse gevoel gekry,” sê Mario in ’n hartseer stemtoon.

Saterdagoggend het Geraldine en haar suster in die omgewing van Oosthuizenstraat geloop om te probeer vasstel wie doodgeskiet is.

Mense het hulle ingelig dat Goosen die slagoffer was en die beskrywing van die oor­ledene se kleredrag het syne gematch.

“Mense het hom nie geken as ’n rondloper-outjie nie en nie almal ken hom nie omdat hy ’n stil kind was,” voeg Geraldine by.

Sy sê voorts nie een van Goosen se vriende het hulle gekom sê nie.

Sy sou graag wou gewees het op die toneel waar haar seun sy laaste asem uit­geblaas het.

Geraldine sê Goosen was ’n goeie pa en sy het hom geleer om daar te wees vir sy kind, Tourian Arendse (2). “Hy het gewoonlik sy kind aan die slaap gemaak, maar Vrydagaand het hy nie. Die kind het Vrydag so gehuil en geskree – selfs voordat ons geweet het Rijaad is dood,” sê Geraldine.

Goosen se familie onthou hom as ’n sokker-fan wat heeldag games op die TV sou kyk. Hy was volgens hulle gehoorsaam en gelukkig in sy familiehuis.

Hy was ’n rustige mens wat nie betrokke geraak het by fisieke konflik nie.

“Wie-ever dit aan my kind gedoen het, moet nou met sy gewete saamleef, maar ek pleit by die Here vir genade vir sy siel ook,” sê Geraldine.

pa is weg: Klein Tourian Arendse (2) kyk na ’n foto van sy oorlede pa.Foto’s: deon ferreira

Goosen laat sy ouers, drie jonger sibbes en sy jong seuntjie agter.

AO Alwin Labans, ’n polisiewoordvoerder, sê die skietery is nie bendeverwant nie.

“Vrydag omstreeks 23:27 het mense in Oosthuizenstraat op Rijaad Goosen se lyk afgekom en hulle het toe die polisie gebel.

“Die polisie ondersoek ’n saak van moord. Nog geen arrestasies is gemaak nie.”

Labans sê Goosen is in die bolyf en lae rug getref.

  • In ’n afsonderlike voorval is ’n man (26) van Johannesburg dood aangetref in sy woonstel.

Die woonstel is geleë langs William Moffettrylaan in Springfield in die Baai.

Volgens Labans het ’n ander huurder gesien die oor­ledene se deur staan oop. Hy het onmiddellik die eienaar gebel.

Dié het ondersoek ingestel en die man op sy slaap­kamervloer in ’n plas bloed aangetref.

“Dit wil voorkom of hy in die nag met ’n stomp voorwerp agter die kop geslaan is. Die polisie ondersoek ’n moordsaak, maar niemand is al in hegtenis geneem nie,” het die polisie gesê.

Volg Maryke Low op Twitter.

Stuur nuuswenke aan info@son.co.za.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters