14 dae gelede
Leonard Martin begrawe
YSTER: Dr. Leonard Martin het diep spore in die land getrap.  ~ Theo Jeptha

DIE struggle-ikoon doktor Leonard Martin is onlangs begrawe.

Honderde Khoi-leiers van oral in die land kon egter nie Martin (65), ’n boorling van die Baai, se begrafnis in Eldorado Park in Johannesburg bygewoon nie.

Dít weens lockdown-regulasies wat bepaal dat slegs 50 mense ’n begrafnis mag bywoon.

Gearresteer

Net dié beperkte getal familielede en vriende kon die verrigtinge in die United Apostolic Faith-kerk bywoon.

Kevin Martin het sy broer beskryf as iemand wat van jongs af al leierseienskappe getoon het en in die uprising in 1974 een van die eerste studente was wat deur die destydse apartheidsregering gearresteer is.

William Volmink, ’n baie goeie vriend van die oorledene, sê hy was op die voorgrond in die politiek en het nie terug­gestaan vir die destydse apartheidsregering nie.

Leonard is in 1975 in ballingskap na Botswana. Sy eersteling, Senaida Martin, is daar gebore.

Senaida sê haar pa het in die laat 1970’s in Denemarke gaan studeer en het in sy tyd in die buiteland ook kursusse in Duitsland en Frank­ryk voltooi.

In 2005, vier jaar ná sy terugkeer na ’n vry, demokratiese bedeling in Suid-Afrika, het Martin ’n pos aanvaar as die groepshoof van The Institute of Bankers in South Africa.

Hy was ’n stoere vegter vir die behoud van die regte van inboorlinggroepe en was in 2018 die sameroeper van die eerste Khoi-San National Consultative Conference in Kaapstad.

Martin was getroud met die Deen Gwenlyn Beck.

Hy laat ook vyf kinders agter.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters