4 maande gelede
Lekkasies ’n groot probleem
Jonathan Lawack  ~ Theo Jeptha

DAAR is tans altesame 11 000 waterlekkasies in die Nelson Mandelabaai Metro.

Ook is daar volgens Nqaba Bhanga, DA-leier in die Oos-Kaap, nog nie ’n sent uitgegee van die R200 miljoen wat die nasionale regering aan die metro toegeken het vir droogtehulp nie.

Kritieke

Jonathan Lawack, die DA-koukusleier in die Metro, het laas week op ’n nuuskonferensie gesê net een plumber bedien die hele Uitenhage.

Kritieke loodgieter-poste is nou al geruime tyd vakant. Volgens Lawack vra die DA nou al jare dat dié poste gevul word.

Lawack vertel die metro het in die boekjaar 2018-2019 ’n waterverlies van 43,9% gely.

Hy sê in die tydperk 1 Julie 2019 tot 31 Desember 2019 het die metro ’n waterverlies van 46,6% gely.

Lawack sê op ’n besoek aan Scheepershoogte in Uiten­hage is afgekom op ’n waterlekkasie.

Volgens hom het dit net drie sekondes geneem om ’n 2 l-bottel vol water te maak. Hy sê binne 1 minuut het altesame 40 l water verlore gegaan.

Bhanga sê daar is beslis ’n waterkrisis in Nelson Mandelabaai.

Hy verwys ook na die onvermoë van die huidige plaaslike regering om die krisis behoorlik te hanteer.

Bhanga meen weens die tekort aan politieke wil en kapasiteit in die ANC- munisipale regering is die waterkrisis in die metro besig om buite beheer te raak.

Laag

Volgens hom het Dag Zero reeds in die metro aangebreek.

’n Groot deel van die metro sit die afgelope drie weke sonder water.

Die Westelike areas in die metro het die afgelope twee dae nie ’n druppel water gehad nie.

Volgens hom het daardie areas dus reeds Dag Zero bereik.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters