19 dae gelede
Leier onthou
GEEN JUSTICE: Godfrey Ackley sê die slagting van 1990 spook steeds by hulle.  ~ Bryan Goliath

VOLGENDE maand – op 6 Augustus – gaan dit presies 30 jaar gelede wees dat die oproer in die Baai en Uitenhage meer as 50 lewens geëis het.

Honderde is ook beseer toe die polisie en lede van die weermag destyds op 6 Augustus 1990 op inwoners losgebrand het.

Godfrey Ackley, die voorsitter van die destydse Chatty Action Committee, sê hulle het daai dag ’n vreedsame optog na die Rent Office in Bloemendal gehou waar hulle ’n memorandum aan die stadsklerk en direkteur van behuising oorhandig het.

Gegrief

Honderde inwoners, van wie die meeste vroue was, het aan die optog deelgeneem.

Hulle was gegrief oor die munisipaliteit wat hoë huurtariewe ingestel het en ook mense se elektrisiteitstoevoer afgesny het as hulle agterstallig was.

“Nadat ons vreedsaam beweeg het, het ons op die vlak tussen Laerskool Greenville en Hoërskool Chatty ver­gader.

“Drie Casspirs het opgedaag en die uitgange versper.

“Ek het na die kaptein gegaan en aan hom verduidelik ons sluit net die byeenkoms af en gaan nou uit­mekaar.

“Hy’t egter gesê hy wil niks hoor nie en hy gee ons net vyf minute om uiteen te gaan.

“Dit was skaars ’n minuut later, toe brand hulle los.

“Dit was een van die wreedste voorvalle wat ek ooit aanskou het, want daar was swanger vroue en oues van dae,” onthou Ackley die dag se tragiese gebeure.

Hy sê toe die skote klap, het mense oormekaar geval in ’n poging om weg te kom.

“Ek was die eerste een wat gearresteer is.

“Hierdie was die begin van ’n week lange oproer wat die hele Northerns tot in sy fondamente geskud het.

Afgebreek

“Eiendomme soos winkels is geplunder en karre en huise het in die slag gebly.

“Vir ’n week lank het dit gebrand in die hele Nor­therns en geweervuur kon 24/7 gehoor word,” vertel hy.

Familiebesighede wat jare lank bedryf is, is tot op die grond afgebreek.

Die tronke was oorvol, want tientalle mense is daagliks gearresteer.

Ackley vertel die polisie het hom probeer omkoop toe hy binne was deur ’n blank tjek aan hom te wys.

Hulle het blykbaar gesê hy kan enige bedrag daarop invul as hy instem om ’n informer te word – wat hy geweier het om te doen.

“Ek dink daar is niks daadwerkliks deur die jare gedoen om erkenning te gee aan dié dag nie. As ’n mens kyk na 16 Junie (Soweto-opstande) is hierdie dag net so insig­gewend.

“Ek het al ontmoet met die vorige staatspresidente Jacob Zuma en Thabo Mbeki, maar hulle kon ook niks na die tafel bring nie.

“Daar is nou wel ’n monument opgerig ter ere van die slagoffers.

“Weens Covid-19 kan ons ook nie hierdie dag vanjaar herdenk nie,” voeg Ackley teleurgesteld by.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters