DIE Hawks het Saterdag twee verdagtes in die Oos-Kaap gearresteer vir die moord op ’n ANC-raadslid.
Thanduxolo Peter Nobongoza (42), die Sakhisizwe-munisipaliteit se hoofsweep, is Donderdag in ’n township in Cala doodgeskiet toe hy vir ’n stappie gegaan het.
Volgens kapt. Anelisa Feni, Valke-woordvoerder, is die twee verdagtes van onderskeidelik 34 en 45 jaar in hul huise in Tsolo en Elliot gearresteer.
Dié sukses kom nadat leidrade opgevolg is deur die Valke se Queenstown-ondersoekeenheid teen ernstige georganiseerde misdaad.
Die provinsiale misdaad-intelligensie, provinsiale speurders, die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad, die taktiese-reaksie-span en die openbare-orde-polisie het ook hard saamgewerk om die verdagtes vas te trek.
Die verdagtes sal na verwagting vandag in die Cala-landdroshof verskyn op aanklag van moord. Nog aanklagte kan moontlik bygevoeg word.