2 maande gelede
Leerders sing
gebede: Leerders van die Primêre Skool Strelitzia bid op Leawin Miller (12) se gedenkdiens.Foto’s: Maryke Low  ~ 

PRAGTIGE opvoerings en praatjies deur Leawin Miller (12) se klasmaats het sy gedenkdiens Vrydag onvergeetlik gemaak.

Die Laerskool Strelitzia in Bethelsdorp Uitbr. 32 is ’n slagveld soos die gangs daar skiet. Maar Vrydag was daar vrede in die stampvol saal.

Dit volg nadat Leawin op 2 Februarie doodgeskiet is.

Hartseer leerders en onnies het vir oulaas die gr. 7-leerdertjie gegroet.

Die skoolkoor het gesing en leerders het gedans en trooswoorde aan die familie gebied.

In ’n huldeblyk het ’n onderwyser vertel dat Leawin baie gehoorsaam was en altyd sy skoolwerk klaargemaak het voordat hy gaan speel het.

Derde

Clifton Jantjies, skoolhoof, sê Leawin is nou die derde leerder wat Strelitzia weens skietery aan die dood afstaan.

In 2015 is Rushane Louw, ’n gr. 6-leerder, in die rug getref. Hy is in die proses verlam en het ’n ruk later aan komplikasies gesterf. Dokters kon nie die bullet uit sy lyfie verwyder nie.

onthou: Leawin se ouers, Aron Finnis (links) en Rochelle Miller (middel), en sy oupa George Miller (regs).

Die volgende slagoffer was Aaliyah “Angel” Tee, wat in 2016 doodgeskiet is, vermoedelik omdat haar ma ’n getuie in ’n moordsaak was. Aaliyah was in gr. 7 by Strelitzia.

Jantjies vertel daar was verlede week twee groepe seuns wat onder mekaar gestry het oor Leawin se dood. Hy het hulle ingeroep en die laities tot bedaring gebring.

Hy voeg by die skool is geleë tussen twee rival bendes wat die skoolterrein as hul battleground gebruik.

Jantjies sê die onderwysdepartement sal ’n plan moet maak om ’n heining om die skool­terrein te bou aangesien dit op die oomblik ’n deurloop vir skollies is.

Rolmodelle

Lt.kol. Lester Brass van die SAPD was ook teenwoordig. Hy het namens die polisie meegevoel met die familie uitgespreek.

gesange: Die koor van die Primêre Skool Strelitzia onthou wyle Leawin Miller met sang.

Hy het die kinders aangemoedig om cool te wees deur liewer hulle ouers te gehoorsaam en nie gangsters as rolmodelle te sien nie.

Lede van die gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) van Algoapark, Beth­elsdorp en die Mountweg cluster was ook teenwoordig.

Die DA-raadslid Georgina Faldtman en Sindi Ibitoye, wat Christian Martin (ANC-LP) verteenwoordig, het ook die diens bygewoon.

Ná die verrigtinge het Nefisa Caesar, voorsitter van die ouerbeheerliggaam, namens simpatiseerders ’n donasie aan Leawin se gesin oorhandig.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters