10 dae gelede
Leerders ruk op teen diewe
help ons! Leerders by die Cebelihle Primêre Skool in die Baai betoog nadat daar die soveelste keer by die skool ingebreek is. Foto’s: MKHUSELI SIZANI  ~ 

MEER as 1 000 gatvol skoolkinders het hulle klaskamers agtergelaat om in die strate van die township Govan Mbeki in die Baai te betoog.

Dít volg omdat hulle genoeg gehad het van inbrake by hulle skool.

Vroeër dié week het die leerders van Cebelihle Primêr saam met hulle ouers en onderwysers plakkate gewys wat lui: “Ndifunde phi?” Dit beteken: “Waar moet ek leer?”

Die kinders het ook oor hulle hartseer gesing omdat hulle weens die diewe nou nie ’n plek het waar hulle kan leer nie.

Die ouers se woede het egter oorgekook toe die raadslid vir wyk 33, Nomazwi Sonti, die betoging gestop het. Sy meen die betoging was onveilig vir die leerders. ’n Groep ouers het op haar geskree dat sy “useless” is.

Mxolisi Peter, onderhoof, sê: “Dié is ’n pleidooi aan die gemeenskap om ons skool te beskerm teen die inbrake. Die onderrig is onderbreek omdat die diewe ons admin-gebou, veral die hoof se kantoor, heeltemal verwoes het.

“Ons het Saterdagoggend op dié gemors afgekom toe ons koor gereed gemaak het vir ’n musiekkompetisie.

“Drie laptops, ’n projektor en die hoof se rekenaar is gesteel.

“Elektriese kabels en ons telefoonlyne is afgeruk.”

Peter sê die skool sukkel reeds sedert 2004 met gereelde inbrake.

“Ons benodig die gemeenskap om betrokke te raak om dié inbrake en vandalisme te stop. Amper 20 rekenaars is reeds by ons skool gesteel, sowel as tuingereedskap en ander belangrike toerusting.

“Ons moes ontslae raak van die rekenaarkamer by die skool weens die inbrake.

“Die polisie kom ná elke inbraak en neem verklarings, maar niemand word ooit gearresteer nie.

“Die enigste oplossing vir die situasie is om die gemeenskap betrokke te kry, want die toekoms van die 1 267 kinders hang af van die skool.”

Princess Tatayi van die skoolbeheerraad voeg by: “Ons is nie tevrede met die situasie by die skool nie.”

Ndumiso Nqabeni (58), een van die ouers, kla ook omdat die raadslid hulle betoging gestop het.

Blameer

“Wanneer ons die raadslid probeer kontak met diensleweringsprobleme, is sy net nêrens. Toe ons vir haar sê van die inbraak, het sy net gesê sy is besig met verkiesingsveldtogte.

“Maar nou kom sy hier aan en blameer ons wat veg vir die toekoms van ons kinders.

“Sy is useless vir haar werk.”

Sonti het geweier om met Son te praat en toe die woedende ouers haar wou aanvat, het sy net geclaim sy het ’n belangrike oproep wat sy moet beantwoord.

Mali Mtima, provinsiale onderwyswoordvoerder, sê die departement weet van die betoging, maar is ook dankbaar dat die wyksraadslid opgestaan het vir die veiligheid van die kinders tydens die betoging.

“Ons doen ’n beroep op die gemeenskap en die regstelsel om die veiligheid van kinders en ons skole eerste te stel. Ons moet ook ver­seker dat daar ’n gesonde verhouding tussen die gemeenskappe en ons skole en ouers is.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters