2 maande gelede
Leerder (12) lê ‘seksklag’
geskend: ’n Seun (12) kry ondersteuning van die onderwysdepartement nadat ’n leerder hom glo in ’n skoolkoshuis seksueel aangerand het.Foto ter illustrasie: JONATHAN LESTRADE  ~ 

’N LEERDER by ’n skool­koshuis het na bewering ’n 12-jarige seun seksueel aangerand.

Mali Mtima, woordvoerder van die Oos-Kaapse onder­wysdepartement, sê die beweerde voorval het by ’n skool in die Buffalo City-metrodistrik gebeur.

Hy sê die departement het ’n verslag ontvang van die bestuurder wat verantwoordelik is vir die skool.

Mtima verduidelik die departement het daarna seker gemaak die saak word by die polisie aangemeld sodat die reg sy gang kan gaan.

Ouers

“Die seun wat na bewering aangerand is, is na die Grey-hospitaal in King William’s Town geneem vir die nodige assessering en behandeling.

“Die ouers van die oortreder en slagoffer is ingelig oor die voorval.

“Hulle het na die skool gegaan waar die ouers van die oor­treder toe aangeraai is om hul kind saam met hulle terug te vat huis toe.”

Mtima sê dit is gedoen om die slagoffer en ander leerders te beskerm.

Die oortreder is nie geskors nie.

Die slagoffer ontvang berading by die skool.

Verdere ondersteuning sal in die lang termyn voorsien word.

“Die departement sal heeltyd in kontak bly met die skool om seker te maak ál die nodige ondersteuning word aan die slagoffer, die ander leerders en die personeel van die skool voorsien,” sê Mtima.

“Die departement moedig leerders aan om soortgelyke sake by die polisie aan te meld.”

’n Deeglike ondersoek sal uitgevoer word.

Die uitkoms daarvan sal die volgende stappe bepaal, insluitend ’n dissiplinêre verhoor.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters