26 dae gelede
Laitie ‘lê in dam bloed’
Lazario FondlingFOTO VERSKAF  ~ 

’N HOËRSKOOLSEUN se lewe is die afgelope naweek tragies kortgeknip.

Dit was toe hy op pad na ’n geselligheid met ’n mes doodgesteek is.

Die oorledene was Lazario Fondling (18) van Schauderville.

Lazario was ’n gr. 10-leerder aan die Hoërskool Cillié.

Hy het sy 18de verjaardag op 9 Augustus gevier.

Sy ma, Louise, is oorlede toe hy maar ag jaar oud was. Sy ouma Irene (77) het hom grootgemaak.

’n Hartseer Irene sê sy het Lazario Saterdag 16:00 laas nog lewend gesien.

Sy sê hy en sy vriende sou die aand by ’n vriend se girlfriend gaan kuier het.

Volgens Irene het een van Lazario se vriende so skuins ná 19:00 by haar huis opgedaag en haar meegedeel Lazario is gesteek.

Sy sê die vriend het aan haar gesê sy moet hospitaal toe gaan.

Volgens Irene het Luciano van Dyk, die boyfriend van Lazario se niggie Desné, haar onmiddellik na die Livingstone-hospitaal geneem.

Oplig

Sy sê toe sy daar aankom, het verpleegpersoneel haar meegedeel hulle het alles gedoen wat hulle kon, maar hulle kon Lazario se lewe ongelukkig nie red nie.

Die ouma sê toe sy die laken oor Lazario se gesig oplig, het hy “at peace” gelyk.

Irene sê sy het oral op sy lyf gesoek vir steekwonde.

Volgens haar het sy gesien sy regterbeen is erg bebloed.

Sy sê soos sy verstaan, is haar kleinseun drie keer van agter in die been gesteek soos hy en sy vriende vir hulle aanvallers try weghardloop het.

Die ouma sê kort nadat sy vir Lazario daar in die hospitaal gebid het, het sy flou geword.

Irene sê ná Lazario se afsterwe het ’n wildvreemde man na haar toe gekom en gesê hy is die man wat met haar kleinseun hospitaal toe gejaag het.

Volgens Irene het die man haar meegedeel dat hy Lazario in ’n “dam bloed” langs die pad sien lê het.

Dit was toe hy met sy motor verby die misdaad­toneel gery het.

Irene sê sy wou later by Lazario se vriende weet hoekom hulle hom net daar gelos en weggehardloop het.

Van hulle het gesê hulle is kort ná die aanval met bakstene toegetakel.

Sy sê van hulle het weer gesê hulle was op pad om hulp te gaan soek.

Aangeneem

Volgens Irene het Lazario niks gekla oor enige een wat hom dreig nie.

Sy sê Lazario is twee jaar gelede in die Metodiste Kerk aangeneem.

Volgens Irene was krieket haar kleinkind se lewe. Sy sê hy het baie uitgeblink in dié sport.

Irene sê trots: “Iemand het eendag gesê Lazario gaan nie eendag nodig hê om vir ’n baas te werk nie, want hy het groot krieket-talent.”

Sy sê Lazario was altyd vol grappe.

Irene sou Lazario se lyk gister gaan uitken het.

Kapt. Johan Rheeder, ’n polisiewoordvoerder, het by navraag gesê ’n moorddossier is aangelê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters