5 dae gelede
L-Jay bly in almal se gedagtes
wyle L-Jay PetersonFoto verskaf  ~ 

’N BAAISE skool het nuwe toerusting ontvang vir sy skolierpatrollie.

Dis ter herinnering aan klein L-Jay Peterson (9), wat sy lewe verlede jaar op ’n hoofpad verloor het.

Die Primêre Skool Republiek in Windvogel in die noordelike gebiede spog ook nou met ’n nuwe biblioteek.

Verlede week het verskeie barmhartiges hulle hart oopgemaak en dié skool bederf.

L-Jay, wat ’n gr. 3-leerder by Republiek was, se lewe is op 18 September kortgeknip.

Dis toe ’n brandweerwa volgens ooggetuies in die IPTS-buslaan in die besige Standfordweg gejaag het nadat die skool verdaag het.

Die drywer het na bewering nie stilgehou vir Republiek se skolierpatrollie nie.

Terwyl L-Jay die pad oorgesteek het, het die wa in hom vasgery.

Hy is op die toneel dood verklaar.

L-Jay se ouers, Lionel Peterson en Sharon Wil­liams, sê hulle dink elke dag aan hom.

Williams sê: “Next maand is hy ’n jaar dood. Ek mis hom baie. Al is dit al ’n jaar, voel dit nog soos nou die dag.

“Dis hoe ek in my hart voel, maar niks sal hom ooit terugbring nie. Daar is net herinneringe.”

Lionel meen die nuwe toerusting sal die kinders help met verkeersvaardighede.

Hy sê: “Aan almal wat deelgeneem het aan vandag se verrigtinge, ons waardeer dit baie. Ek hoop dit kan lewens red.”

L-Jay se naam is op die nuwe oranje baadjies en die skolierpatrollie het nou splinternuwe verkeerstoerusting sodat motoriste hulle beter kan sien.

Stukkend

Volgens Charles Adams, Republiek se skoolhoof, is motoriste onverskillig.

Adams sê: “Die cones is al stukkend gery en hulle het nie respek vir die skolierpatrollie nie.

Republiek het weens finansiële­ beperkinge nie regtig ’n biblioteek gehad nie.

“Die naaste biblioteke is in Algoapark, Gelvandale en West End.

“Hulle moes soontoe loop en daar is onsmaaklike elemente langs die pad.

Dié biblioteek is opgedra aan Hester Isaacs, ’n oorlede onderwyseres.”

Die skenkings was alles die idee van Kouthar Bardien, ’n leerder van Collegiate High School for Girls. Bardien is die president van Collegiate se Interact Club.

Sy sê: “Nadat ek L-Jay se storie laas jaar gelees het, het ek elke oggend wanneer ek verby die skolierpatrollie by ons skool gegaan het, met ontsteltenis besef dat ons skolierpatrollie ten volle toegerus is, maar dat ander skole sukkel om hulle leerders veilig na en van die skool te kry.”

Bill M Signs, Diesel & General, Caltex Eastern Cape­ Marketer en Caltex Amatola Motors het gesamentlik meer as R80 000 geskenk. 

baie leesstof: Tafeeq Finnis, Recel Rudlin en Sophia Abrahams verken die nuwe biblioteek.
veiliger: Betrokke by die skenkingsverrigtinge is (van links, agter) Lionel Peterson (L-Jay se pa), Andre Rademan (borg), Kouthar Bardien (voorsitter van Collegiate se Interact Society), Charles Adams (hoof van Republiek Primêr), Craig Herman (borg) Sharon Williams (L-Jay se ma), (voor) Dimitri Witbooi, Christelle Afrikaner, Jenevah Jordaan en Nashrodene Rondganger (almal van die skolierpatrollie).
cope nie altyd: Isabella Ismail, Sharon Williams en Lionel Peterson mis L-Jay verskriklik.Foto’s: charles pullen
wyle L-Jay PetersonFoto verskaf
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters