10 dae gelede
KYK: Witbooi-laitie nog witweg
UITGEBREIDE SOEKTOG: Deon Cummings verduidelik waar die lede van die gemeenskap oral gaan kyk het vir die vermiste Recolin Witbooi (8). Langs hom sit Recolin se suster, Cameron Davids, sy ma, Chriszelda Witbooi, en sy antie Jessica Witbooi. Foto’s: DEON FERREIRA  ~ 

RECOLIN Witbooi (8) van Barcelona in die Baai is steeds ná byna ’n week witweg.

Saterdag het Recolin ná middagete met sy maats gaan speel en toe spoorloos verdwyn.

Daardie selfde aand het sy ouers by die Gelvandale-polisiestasie ’n saak van ’n vermiste persoon geopen.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, het dit bevestig. Sy sê die seun het laas nog ’n swart hoodie top en sweetpakbroek, asook wit tekkies, aangehad.

Sy voeg by die polisie gebruik ál hulle beskikbare hulpbronne om na die kind te soek.

Nagte in en nagte uit het die gemeenskap in die bosse na klein Recolin gaan soek, maar niks gekry nie.

Sondag het die polisie se duikers in ’n dammetjie gaan soek in die Grootkloof – die omgewing waar die laitie laas gesien is.

Woensdag het polisiehonde en selfs die Gelvandale-polisiestasie se bevelvoerder, brig. Lawrence Soekoe, in die kloof na die kind gaan soek.

Ontevrede

Dit volg nadat die gemeenskap van Barcelona Dinsdag in Gailweg gebrand het oor hulle meen die polisie gee nie genoeg aandag aan die saak nie.

Clive Domingo en Chriszelda Witbooi, Recolin se ouers, is ook nog ontevrede oor die polisiediens.

Chriszelda sê: “Ons kry leidrade, maar elke keer as ons daar kom, is hy nie daar te vinde nie.

“Maar ons gaan hom kry – nog vandag.

“Die polisie was nog net gisteroggend (Woensdag) hier.

“Hulle het gesê hulle sal ons later Linton Grange toe vergesel, maar hulle het toe nooit daar uitgekom nie.

“Tot nou nog het ek nog niks van die speurder gehoor nie.

“Ek is diep ontevrede.”

Cameron Davids, Recolin se ouer suster, sê sy het sedert Saterdag nog nie ’n oog toegemaak nie.

“Die aande is baie koud en dalk het hy nie ’n dak oor sy kop nie.

“Dat hy dalk soos ander kinders moet loop en rondbedel, pla my, want hy is nie gewoond daaraan nie,” sê Davids.

Recolin ken volgens sy gesin net die nabye omgewing waar hy woon, en nie ander, verder areas nie.

Hy is ook nie ’n kind wat sommer rondloop nie.

Daar is baie rumours wat rondgaan oor waar die kind hom kan bevind.

Verskeie groepe mense het gaan soek in areas soos Westering, Sentraal, Summerstrand, Newton Park, Linton Grange en die omliggende areas.

Deon Cummings, wat na die seun help soek het, sê hulle het by malls flyers uitgedeel en oral mense gevra of hulle die kind dalk gesien het.

“Ons het gister (Woensdag) in Newton Park gaan soek. ’n Paar mense het vir ons gesê hulle het die outjie Sondag daar gesien met ’n paar ander mense by hom.

“Ons bly positive en ons hoop ons gaan hom deur die loop van die dag kry,” sê Cummings.

Blykbaar het die vrou wat Dinsdag gesê het sy het gesien hoe twee ouens Recolin Saterdagmiddag skop en slaan, haar storie intussen verander.

Kol. Naidu het beklemtoon die polisie volg alle inligting op wat aan hulle deurgegee word. “Die soektog duur steeds voort.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters