2 maande gelede
KYK: Vrou ‘sien 2 skop kid'

’N VROU beweer sy hou dalk ’n clue oor wat met die vermiste seun van Barcelona in die Baai gebeur het.

Die vrou, wat in die gebied bly, het gister na vore gekom.

Sy hou vol sy het gesien twee outjies skop en slaan Recolin Keagon Witbooi (8) en trap op sy kop.

Dit het na bewering Saterdag voor skemer gebeur.

Sy het later ’n foto van Recolin gesien en inwoners laat weet dís die kind wat so geslaan is.

Later is lede van die Gelvandale-polisiestasie daarvan in kennis gestel en hulle het haar verklaring gevat.

Sy het gedurende Son se teenwoordigheid by die polisiestasie nie uitgekom nie en kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Recolin word sedert Saterdagmiddag vermis nadat sy pa, Clive Domingo, vir hom, sy broer en ’n maatjie chips gemaak het vir middagete.

Hulle het later na bewering onder die boom van ’n vrou se huis in Plutostraat gaan speel.

Die kinders het toe naby die bosse by Grootkloof uitgekom en het glo daar verder gespeel.

Die maatjie het huis toe gegaan en het Recolin laas daar op die vlak gesien.

Volgens die maatjie het Recolin gesê hy gaan na ’n ander plek toe loop.

Inwoners is nou omgekrap en meen die polisie bring nie hulle kant nie.

Die inwoners sê polisiehonde was net Sondag doenig in die bosse in die kloof en polisieduikers het in die dam gaan soek.

Maar gister het die helikopter glo net een keer oor die kloof gevlieg en verdwyn.

Domingo en Chriszelda Witbooi, Recolin se ma, is siek van kommer.

Hulle kon gister gedurende Son se besoek aan die huis skaars praat.

Chriszelda het gesê hulle was Maandag saam met die polisie na malls toe en die polisie het ook DNS-monsters van haar geneem.

Inwoners het gisteroggend weer eens met gowns en al die bosse ingevaar en gaan soek.

Almal is besorg, want hulle dink terug aan vier jaar gelede toe inwoners die lyk van ’n 11-jarige meisie in die einste bosse gevind het.

Fredeline Lottering was ’n week vermis en die inwoners van Barcelona het aanhoudend na haar gesoek.

Haar lyk is in Februarie 2015 in die bosse naby die Malabar-begraafplaas gekry.

’n Mes is langs haar lyk gevind en sy is vermoedelik verkrag.

’n Vrou van Barcelona het gister aan Son gesê sy was in 2015 op die toneel en wurms het al uit die kind se oë gekom.

Inwoners wil nie hê so iets moet weer gebeur nie en daarom is hulle nou pro­aktief oor Recolin.

Maar Domingo sê hulle hoop steeds die beste. “Solank daar nie ’n lyk gekry is nie, is daar nog hoop.”

Reuk

Die polisie het die ouers gisteroggend opgelaai. Hulle het op verskeie plekke na Recolin gaan soek.

Terwyl dit gebeur het, het ’n groot groep Barcelona-inwoners na die Gelvandale-polisiestasie gestap.

Daar het ’n polisiekaptein met hulle gepraat en gesê hulle moet liefs nie te veel in die bosse rondloop nie omdat dit die seun se reuk sal wegvat van polisiehonde.

Hulle het ook gesê die polisiehonde is in Middelburg en sou eers teen gisteraand in die Baai aankom.

Dit was nie goed genoeg vir die inwoners nie.

Betoog

“As hulle skiet, is daar 20 polisie-vêns wat soontoe ry, maar as ’n kind weg is, help hulle nie regtig nie,” het ’n vrou in die crowd laat hoor.

Inwoners het gister laatmiddag in Gailweg betoog oor hulle ontevrede is met die polisie se diens.

Hulle het gesê hulle gaan in Summerstrand se bosse kyk, aangesien hulle van­tevore ’n verlore kind daar opgespoor het.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, het gesê: “Die soektog na die seun duur voort en alle beskikbare hulpbronne word gebruik.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters