29 dae gelede
KYK: Vrou brand lewend
Chrystal JonasFOTO verskaf  ~ 

SY HET gegil en geskree om hulp, maar die vlamme was te hoog vir enige iemand om haar uit die brandende shack te gaan red.

So vertel ’n geskokte Ronel Meyer, ’n inwoner van die Ou Lapland- informele nedersetting in Uitenhage.

Dit is nadat Chrystal Jonas (36) Saterdagmiddag in haar shack verkool het.

Jonas se shack het tot op die grond afgebrand. Meyer sê niemand weet nog hoe dié verwoestende brand ontstaan het nie.

Meyer sê Jonas se boy­friend, Xavier Smit, het brandwonde opgedoen toe hy probeer het om haar uit die vlammehel te red.

Son verneem hy word behandel daarvoor.

Kapt. Gerda Swart, ’n polisiewoordvoerder, sê dis nog nie bekend wat die brand veroorsaak het nie.

Swart sê ’n geregtelike doodsondersoek word nog gedoen.

Jonas se hartseer pa, Owen (59), sê gemeenskapswerkers het hom kom inlig dat sy dogter se shack brand en dat sy binne is.

Owen sê dit was 16:00 terwyl hy in sy kar gesit het, pas nadat hy van die werk af gekom het.

Hy sê sy vrou, Henna, het toe onmiddellik langs hom ingespring en hulle het daarna met ’n vaart na Ou Lapland gejaag.

Owen vertel Chrystal se enigste seun, Tyreeq (17), het sommer Ou Lapland toe gehardloop toe hy hoor wat daar gebeur.

By hulle aankoms was die hele plakkershut reeds tot op die grond afgebrand.

Owen sê Chrystal se lyk was toegedraai in foelie; net haar kop was sigbaar.

Dit was vermoedelik die werk van die brandweerpersoneel of polisie.

Owen sê die tragedie wat sy dogter oorgekom het, het hom so oorweldig dat hy onmiddellik in sy kar geklim en teruggery het huis toe.

Owen sê daar loop baie stories oor hoe die brand ontstaan het, maar hy wil nie uitwei daaroor nie.

Chrystal het as ’n security guard vir Woga Security gewerk.

Owen sê: “Ons is nog geskok.

“Alles is nog so onwerklik.”

Hy sê hy is so ontsteld oor sy dogter se wrede dood dat hy ’n foto van haar van die muur verwyder het.

Verwerk

Dis ’n foto waarin sy Tyreeq, wat toe ’n baba was, vashou.

’n Familielid sê Tyreeq verwerk sy ma se dood baie moeilik. Sy sê hy lê net heeldag in rou.

Die familie het aan Son drie medaljes gewys wat Tyreeq in ’n karatekompetisie in Grahamstad verower het.

Dit was ’n week voor sy ma se gru-dood.

Chrystal se begrafnisdiens is Saterdag 10:00 in die Ou Apostoliese Kerk in Mountain View.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters