3 maande gelede
KYK: Vark nog vry wat lewe vat
Norman PlaatjiesFoto: son  ~ 

NÁ AMPER twee jaar is daar nog niks nuwe leads oor die moord op ’n apostel en politieke aktivis van die Baai nie.

En steeds wonder sy vrou nog elke dag of haar lewe in gevaar is.

Saterdag het DA-lede Norman Plaatjies (58) se gesin in Timothy Valley besoek.

Norman is al op 24 Julie 2017 doodgeskiet, maar sy mense is steeds stukkend.

Son het vroeër berig Norman se vrou, Jacque­line, en hulle kinders moes in die klerekas wegkruip toe die koeëls gevlieg het.

Die egpaar het daardie Maandagaand reeds geslaap toe hulle gehoor het iemand trap hulle deur.

Norman het gaan ondersoek instel. Terwyl Jacque­line haar gown aangetrek het, het sy gehoor haar man vra: “Hoekom?”

In ’n vorige onderhoud het Jacqueline gesê toe sy in die sit­kamer kom, het sy gesien Norman val op die grond. Sy moordenaar het oor hom gestaan en aanhoudend geskiet. Dit was pikdonker.

Jacqueline en haar kinders het in die klerekas gaan skuil totdat die skote stil geraak het.

Die polisie het destyds bevestig ’n moorddossier is aangelê.

Yolande de Vos, Norman en Jacqueline se dogter, het die naweek gesê wanneer sy by die huis instap, voel sy die leemte.

Norman en Jacqueline het nege jaar ’n safe house bestuur by hulle huis in Lingelihlestraat. Hulle het berading verskaf aan veral mishandelde inwoners.

Norman was ’n DA-aktivis en ’n lid van die sektorpolisie in Timothy Valley. Hy was ook ’n apostel by die Evangeliekerk in dié area.

Op die naweek se besoek aan die gesin het rdl. Eddie Harker gesê: “Ons is hier om die crime te bespreek wat ons daaglikse lewe in wyk 38 affekteer.

“Die wete dat daar soveel mense buite in die jaart gestaan het, het die gangsters reeds geaffekteer. Hulle dink ons vat hulle space weg. ’n Mens kan nie in só ’n environment lewe nie.”

Jacqueline het gesê dis nou nog moeilik om daaroor te praat, veral met die mense met wie sy close is.

Sy het verklap sy wonder elke dag oor haar veiligheid wanneer sy die huis verlaat of daarheen terugkeer.

“Daar is geen sekuriteit nie. Wat die saak betref: Ek moet elke keer die speurder bel of whatsapp oor hoe ver die saak is. Is dit dan nie die staat se plig om terug te kom na my toe nie?” wou Jacqueline weet.

Belowe

Sy lees in die koerant mense word gearresteer en tronk toe gestuur vir die moord op gangsters. Maar die mens wat haar man, wat nie ’n gangster was nie, vermoor het, loop steeds vry rond.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, het be­lowe sy sal vandag uitvind hoe die ondersoek vorder.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters