16 dae gelede
KYK: Tiep ’n regte dump
SKARREL: Inwoners soek waardevolle goed vir ’n inkomste op die Arlington-tiep in Walmer. Weens al die gate in die tiep se omheining het enige een toegang tot die perseel. Foto’s:MARYKE LOW  ~ 

DAAR is baie ongewapende sekuriteitswagte op die Arlington-tiep in Walmer in die Baai en selfs hulle voel onveilig.

Gister het die DA-raads­lede Tracy Weise (wyk 1) en Athol Trollip die tiep besoek.

Nog ’n raadslid, Gustav Rautenbach, die DA se woordvoerder oor veiligheid en sekuriteit, was ook daar.

In Junie het Weise ’n mosie aan die raad van die Nelson Mandelabaai-metro voorgelê en geëis iets daadwerkliks moet gedoen word oor veiligheid op die tiep.

Aanmeld

Sy wil hê die Metro moet ernstig kyk na die opleiding van die wagte sodat hulle met wapens kan werk.

Sy het vertel dié jaar was daar al meer as 40 rooftogte op die tiep.

Rautenbach sê: “In Januarie was daar 2 rooftogte, in Februarie 4, in Maart 1, in April 6, in Mei 18 en in Junie 10. In al die gevalle is óf ’n vuurwapen óf ’n mes gebruik om mense te beroof.

“Hou in gedagte dat daar ook mense is wat dit nie by die polisie aanmeld nie.”

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, het gesê die polisie neem kennis van die toename in rooftogte by die Arlington-tiep.

Die polisie het selfs die publiek gewaarsku om daar op hulle hoede te wees.

In Junie het Li­tho Suka, gewese mayco-lid vir veiligheid en sekuriteit, op ’n raadsvergadering gesê: “Die staande komitee oor veiligheid en sekuriteit het die sites besoek.

“Ons gaan ’n vergadering hou sodat ons die kwessie dringend kan bespreek.

“Die rooftogte is ’n toenemende kommer. Ons gaan beslis ingryp.”

Woensdag het die polisie ’n verdagte betrap toe hy iemand beroof. Dit wil sê daar is al een aanval in Julie.

AO Alwin Labans, polisiewoordvoerder, sê ’n saak van roof is geopen.

“Die klaer het sy rubbish gaan weggooi toe hy gekonfronteer is deur vyf mans.

“Hulle het hom elkeen met ’n mes gedreig en hom oorval.

“Hulle het hom op die grond gegooi en aangerand en hy het ligte beserings opgedoen. Hulle het sy juweliersware gevat.”

Die klaer het die polisie gebel en dié het een verdagte in die gebied opgespoor en hom gearresteer. Hy het gister in die hof verskyn.

Trollip-hulle het onder meer met ’n vrou gepraat wat by die ingang werk, sowel as die opsigter en ’n paar wagte.

Die vrou by die ingang het gesê sy is die enigste een by die hek en sy sluit haarself in die kamertjie toe omdat sy onveilig voel met al die rondlopers.

Druktyd

Die opsigter het gesê sewe wagte is nie genoeg nie.

Verskeie wagte voel onveilig omdat hulle nie regte vuurwapens het nie.

Mthubanzi Mniki, Metro-woordvoerder, sê hy het Son se navrae aan die relevante persone gestuur. Gister teen druktyd het hy glo nog vir terugvoer gewag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters