4 maande gelede
KYK: Recolin dalk in skelm se kloue
missing boy, port elizabeth
8-year-old Recolin Keagan Witbooi was last seen on Saturday at 13:30. (Supplied, SAPS Twitter)  ~ 

DAG 11: Recolin Keagon Witbooi (8) van Barcelona in die Baai is steeds vermis.

Lede van die Con­cerned Citizens of PE Metro het egter gister ’n goeie leidraad gekry toe hulle met street­wise mense in Newton Park gaan praat het.

Dié het hulle vertel van ’n man in die Greenacres-area wat na bewering straat-seuns misbruik.

Recolin is glo saam met hom gesien.

“Ons het inligting ontvang van ’n man wat seuns op straat gebruik om vir geld te skarrel.

Trane

“As dit waar is, weet ons darem hy (Recolin) lewe,” sê Audrey Campher, ’n besorgde soeker.

By haar het ’n 13-jarige seun in trane gesit. Hulle het op hom afgekom in hulle soektog na Recolin.

Dié kind is maer en vuil en ’n mens kan sien hy het lank laas ordentlike klere aangehad.

Hy is glo ’n slagoffer van die beweerde misbruiker van Greenacres.

“My ma-hulle bly in Missionvale. Haar man skop my heeltyd uit die huis uit en toe beland ek op straat. Dis meer as ’n jaar.

“Ek skarrel vir kos en slaap agter (’n eetplek) onder ’n boom,” sê die laitie.

Hy vertel hy het die man gekry toe hy saam met hom begin loop het in die Green­acres-omgewing.

“Hou wou my stout maak, toe hardloop ek weg. Hy wou dit al baie doen.

“Hy doen dit met baie ander seuns. Hy het altyd net swart klere aan,” sê die seun huilend.

Hy ken egter nie vir Recolin nie.

Die Con­cerned Citizens of PE Metro het gister ook flyers met Recolin se foto daarop uitgedeel aan mense, veral by malls.

Intussen soek die gemeenskap en sy familie elke dag te voet in verskeie areas soos Newton Park, Sentraal, Lorraine, Linton Grange, Westering, Greenacres en Kuyga.

Gister het besorgde Barcelona-inwoners saam met Recolin se ouers, Clive Domingo en Chriszelda Witbooi, te voet na Morning­side toe geloop om te gaan soek.

Hulle het veral die beboste areas gefynkam vir enige teken van die seun.

Recolin het op 6 Julie saam met sy maatjies naby die Grootkloof gespeel en nooit huis toe gekom nie.

Dieselfde aand het sy ouers ’n saak van ’n vermiste persoon by die Gelvan­dale-polisiestasie aanhangig gemaak.

Die polisieduikers, honde-eenheid en die eenheid belas met gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings was ook deel van die soektog.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie gebruik al hulle resources om na die kind te soek. Volgens haar het die polisie geen nuwe leidrade nie.

Witbooi sê wanneer sy ’n seun sien van Recolin se ouderdom, wonder sy waar haar seun hom bevind.

Sy sê hulle het die naweek laas van die polisie gehoor en dat haar man dit baie erg vat.

Domingo vertel: “Ons gaan soek oral waar ons al gesoek het. Ons loop, want as ons in ’n kar is, ry ons dalk verby hom.

“Daar is baie mense wat ons ondersteun. Van hulle bly selfs uit die werk om te help soek.

“Ons slaap maar min en eet nie reg nie.”

Althea Williams van Barcelona het gister gehelp om te soek.

“Ek self het twee kinders en ek kan my net indink waardeur hulle moet gaan.

“Ons het al meer as vyf areas deurgeloop,” sê Wil­liams.

Jessica McMaster sê Recolin was soos haar kind.

“Ek het drie jong dogters en Recolin het altyd daar kom speel.

“Ek moes in die werk gewees het, maar gelukkig het my baas verstaan toe ek die situasie verduidelik het.”

Daphne Mentoor, wat ook gehelp soek het, sê dis nie die eerste kind van Barcelona wat weggeraak het nie.

Sy verwys na Fredeline Lottering (11), wie se lyk in Februarie 2015 in die bosse gevind is in die area.

“Ons is raadop en wil nie nog kinders verloor nie,” sê sy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters