4 maande gelede
KYK: Ouers demand heining
optog: Skoolouers sluit gister die hekke van ’n Baaise skool oor hulle ’n fence om die skoolperseel soek. Foto’s: DEON FERREIRA  ~ 

DIE kinders is te bang om skool toe te gaan, want die gangsters skiet gereeld op en rondom die skoolterrein.

Daarom het ouers wie se kinders by die Laerskool­ Strelitzia in Bethelsdorp, Uitbreiding 31, skoolgaan, gister die skoolhekke gesluit.

Broek

Hulle eis die Oos-Kaapse onderwysdepartement moet ’n heining om die skool bou om hulle te beveilig.

Rdl. Georgina Faldtman (DA) was ook daar om haar ondersteuning te bied.

Volgens Nico Windvogel maak sy kleinseun elke keer sy broek vuil in die klas wanneer die skote afgaan.

“Sy magie spoel aanhoudend. As hy sy broek vuilmaak, moet ek hom elke keer by die skool gaan haal.”

Anna Sias se seun het verlede jaar gr. 7 gedruip.

Sy het drie ander kinders ook by Strelitzia.

“Die kinders vertel my altyd van die skietery soos hulle by die huis inkom. In die aande huil hulle en kan nie slaap nie.”

Sias voeg by dis belangrik dat haar kinders education kry sodat hulle vir hulle ’n beter lewe kan maak en uit dié gemeenskap kan kom.

Loretta Krige sien om na haar kleinkind in gr. 7.

“My kleinkind is baie slim. Van gr. 1 tot gr. 6 het hy diplomas gekry vir sy skoolwerk.

“Maar noudat dié goed plaasvind, begin sy werk swakker word.”

Venetia Olivier, ook ’n ouma, sê sy moet haar kleinkind moed inpraat om hom by die skool te kry.

“As dit skiet, sê die juffrou hulle moet met hulle koppies plat op die tafel lê. Die kinders gaan deur trauma, want hulle sien hoe hulle maatjies raak geskiet word.”

Yolande le Roux van die Northern­ Areas Survivors and Ambassadors Against Gangsterism was ook by die optog.

“Die omheining is baie laag en daar is stukkende areas­.

“Ons het geen bevestiging gekry van die onderwysdepartement dat hulle die heining sal bou nie,” sê Le Roux.

Die skool se hoof, Clifton Jantjies, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Mali Mtima, die woordvoerder van die Oos-Kaapse onderwysdepartement, sê: “Die veiligheid van die skool gaan nie net oor ’n fence nie. Hulle kan maar ’n 15 m hoë muur bou en die skelms sal steeds daar inkom as die mense nie opstaan en wys dit is hulle skool nie.

“Ons is besig om verskeie gemeenskaplike belanghebbers te mobiliseer.

Aansoek

“Ons vra dat die gemeenskap die oortreders aan die polisie rapporteer sodat hulle gevang kan word.

“Ons het ook ’n aansoek ingedien vir meer geld vir infrastruktuur by skole. Daar is nie ’n definitiewe tydlyn vir wanneer die heining gebou gaan word nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters