10 dae gelede
KYK: Kids help soek vermiste seun
Worried: Chriszelda Witbooi sê snaakse dinge gaan deur haar kop vandat haar agjarige seun, Recolin, vermis word.Foto: Deon Ferreira  ~ 

VANDAG is die vierde dag dat ’n kind van die Baaise noordelike gebiede net skoonveld is.

Recolin Keagon Witbooi (8), sy boetie Cadon (5) en ’n maatjie het Saterdag op verskeie plekke in Barcelona gespeel. Toe hy teen 18:00 nie by die huis was nie, het sy ouers begin worry.

Teruggekeer

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê die cops se eenheid belas met gesinsgeweld, kinderbeskerming en seks-oortredings in die Baai soek na die seun.

“Volgens die polisie se inligting is Recolin Saterdag omstreeks 13:30 laas gesien waar hy met sy vriende in Uranusstraat gespeel het.

“Hy het nie teruggekeer huis toe nie.

“Hy het laas ’n swart hoodie, swart sweetpakbroek en ’n paar wit Nike-tekkies aangehad.”

Recolin se ma, Chriszelda Witbooi (37), en sy pa, Clive Domingo (63), is siek van kommer.

Domingo vertel hy het nog Saterdagmiddag chips vir middagete gemaak omdat die kinders honger was.

“Dis die laaste keer dat ek hom gesien het.

“Sy jonger broer, Cadon, en ’n ander maatjie het weer gaan speel. Hulle het vir my gesê waar hulle gaan speel,” vertel Domingo.

Chriszelda sê: “Ek was in die werk daai tyd en het ná 16:00 by die huis gekom.

“Van 18:00 het ek begin worried raak, want toe ek buite kyk, sien ek al sy vriende is by die huis.

“Toe gaan ons na die kinders se families toe, maar niemand het hom gesien nie. So 20:30, toe gaan ons maar polisie toe.

“Baie snaakse dinge gaan deur my kop.”

Albei ouers sê Recolin speel gewoonlik rondom die huis en het nooit voorheen weggeraak nie.

Aiden Plaatjies (9), die maatjie wat saam met Recolin was, sê hulle het op die vlakkie naby Pluto­straat gespeel.

“Recolin het gesê hy gaan tip toe. Ek het huis toe gegaan.

“Dit was amper donker en my ma het gesê ek moet. Ek was nog nooit by die tip nie.”

Aiden sê hy mis sy maatjie.

Fluitjies

Sondag het polisieduikers by die dam in die Grootkloof ingeduik, maar niks gekry nie. Selfs ’n helikopter het met die soektog gehelp.

Gemeenskapslede het elke aand tot die vroeë oggendure regdeur tot by Westering gesoek en fluitjies geblaas. Gisteroggend het veral kinders weer bymekaargekom om na Recolin te soek.

  • Enige iemand wat weet waar Recolin is, kan sers. Luzuko Pehlo bel by 082 565 0155 of 041 401 3000. Die polisie se Stop Misdaad­oproepsentrum kan gebel word by 08600 10111.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters