18 dae gelede
KYK: Erg vroom ná vrot rapport
‘Ou koeie’: Jackson Ngcelwane en Mkhuseli Mtsila praat oor die ouditeur-generaal se verslag oor die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit se finansiële welstand. Foto: Maryke Low  ~ 

DIE huidige koalisie­regering sê sy mense het nie miljarde rande onreëlmatig spandeer nie – dis maar net admin-foutjies.

Hulle slaan vure dood nadat die ouditeur-generaal (OG), Kimi Makwetu, onlangs ’n verslag uitgereik het.

Die OG se saamgestelde algemene verslag gaan oor die bevindinge van plaas­like regerings se oudits.

In die verslag staan die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit (NMBM) sukkel al die laaste sewe jaar om beter uitslae vir sy oudits te kry.

Jackson Ngce­lwane, waarnemende finan­siële hoof in die metro, was sy hande in onskuld.

Hy sê die on­reëlmatige uitgawes “is histories van aard. Sedert die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur uitgevaardig is, is daar sekere goed in ons interne beheer wat ons dalk nagelaat het om te doen.

“Dit het opgehoop.”

Hy sê onreëlmatige uitgawes wat in die oudit geïdentifiseer is, dui nie noodwendig op ’n misdaad nie.

Dié probleme ontstaan moontlik heel onskuldig, soos weens swak liasseerwerk.

Luidens die verslag het 84% van die onreëlmatige uitgawes te doen met leemtes in die vereistes vir verkrygingsprosesse.

Ngcelwane sê voorts: “Wanneer jy ’n regering se geld uitgee, is daar prosesse wat gevolg moet word.

“Dié reëls is bekend as supply chain management regulations.

“Jy moet seker maak die raad keur die geld goed en dat die geld in die begroting is.”

Ngcelwane het bygevoeg hulle sal hard moet werk om te verbeter op die laaste sewe jaar se uitslae.

Hy verduidelik verder: “Dit be­teken nie die geld is geëet of gesteel nie.

“Dit beteken bloot dokumente is missing by die bestuur van die voorsieningsketting.”

Seker

Al is net één dokument missing, is die hele trans­aksie onreëlmatig.”

Hy sê voorts die munisipale komitee vir openbare fondse moet die onreëlmatige uitgawes ondersoek.

“Ons het ’n verslag wat amper afgehandel is oor hoe om die onreëlmatige uitgawes te hanteer.

“Ons berei ook nou ’n oudit-aksieplan voor.

“Dit sal na die hoof­oorsake kyk.

“Ons monitor elke dag die uitgawes in die boekjaar 2018/’19.”

Ngcelwane het ook verwys na die ouditeursfirma Moody’s se verslag oor die NMBM.

Hierdie verslag is op 21 Januarie uitgereik.

Daarin sê Moody’s die NMBM het min skuld en kom sy finansiële verpligtinge na.

Mkhuseli Mtsila, die mayco-lid vir begroting en tesourie, voeg by dat hulle beoog om ’n beleid oor onreëlmatige uitgawes aan die raad voor te lê.

Daar is ook sprake dat mense wat by onreëlmatige uitgawes betrokke is, persoonlik verantwoordelik gehou kan word.

Kundig

Môre sal die raad besluit wie as die finansiële hoof aangestel word.

Die opposisiepartye het laat weet hulle sal nie die aanstelling goedkeur van ’n kandidaat wat nie kundig en gekwalifiseer is nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters