7 dae gelede
KYK: Cops soek na kind in kloof
RECOLIN KEAGONWITBOOIFOTO VERSKAF  ~ 

DIE soektog na die vermiste Recolin Keagon Witbooi (8) van die Baai duur voort.

Gister het die Baaise polisie in die Grootkloof langs Helenvale in full force gaan soek na Recolin.

Hy word sedert Saterdag vermis nadat hy naby die huis met sy broer en ’n maatjie gaan speel het.

Hy is laas gesien in die omgewing van die kloof en het ’n swart hoodie, swart sweetpakbroek en wit tekkies aangehad.

Dit was gister ure van soek – te voet, met ’n polisiehond en met polisievoertuie wat die bosse ingevaar het.

Maar daar was geen teken van Recolin nie.

Sy ouers, Clive Domingo en Chriszelda Witbooi, bekommer hulle dood en gaan soek ook gereeld na hom.

Gister het hulle onder meer in Linton Grange gaan soek.

Flyers met ’n foto van Recolin se gesig op is glo aan inwoners uitgedeel.

Polisiehonde

Intussen het inwoners Dinsdagmiddag en weer die aand in Gailweg betoog. Hulle het ook items gebrand oor hulle daardie dag meer hulp van die polisie verwag het as wat hulle gekry het.

Toe hulle vroeër dié dag na die Gelvandale-polisiestasie toe gestap het, is daar aan hulle gesê die polisiehonde is in Middelburg en sou eers die aand terugkeer.

Vroeër het ’n vrou van Barcelona na vore gekom en gesê sy het gesien hoe twee ouens Saterdag ’n seun geslaan het wat soos Recolin lyk.

Sy het Dinsdag ’n verklaring by die polisie gaan aflê.

Daar is baie stories wat rondloop oor wat met die kind kon gebeur het en waar hy hom kan bevind, maar die polisie het glo geen nuwe leidrade in die bosse gevind nie.

Kol. Priscilla Naidu, ’n polisiewoordvoerder, het gister gesê verskeie polisie-eenhede neem aan die soektog deel.

Dit sluit in lede van die Gelvan­dale-polisiestasie, die honde-eenheid en die eenheid belas met gesinsgeweld, kinderbeskerming en seks-oortredings.

Inwoners help ook met die soektog.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters