11 dae gelede
Kwajongens vat hul kabels
KOPSEER: Bekeka Geleba wys waar die diewe hulle kabels gesteel het.  ~ Bryan Goliath

KABELDIEWE gee hulleself ’n gawe tyd in die Northerns.

En dit ten koste van die verontriefde, moedelose inwoners.

Baie plekke in die Baai gaan gebuk onder die euwel.

Woensdagaand moes Uitbreiding 22 se belastingbetalers uitvind daar is geen krag in hulle huise nie.

By nadere inspeksie het hulle ontdek die kabels is uit die kraghuisie in Fember-straat gesteel. Dít het die mense warm onder die kraag.

Misnoeë

In Uitbreiding 36, naby Kleinskool, is vyf gesinne sedert Vrydag sonder elektrisiteit.

Bekeka Geleba en vyf kinders woon in die een huis. Sy het aan Son gesê sy is na die munisipale kantore om te hoor wat hulle te doen staan. Daar is sy aangesê om ’n affidavit te maak.

Haar buurvrou, Barbara Stuurman, het haar misnoeë behoorlik uitgespreek.

Sy sê hulle pla niemand in die area nie, en nou word hulle so verontrief.

“Ons moet nou suffer deur outjies wat nie werk vir hulle hande het nie. Hier betaal ons ons krag op tyd en koop gereeld elektrisiteit.

“Dis mos nie reg dat ons nou só moet klaarkom nie. Ons hele roetine en ritme is versteur. Almal weet dis baie ongemaklik en nie lekker sonder krag nie.

“As dit nie die water is wat af is nie, dan is dit load shedding. Maar hierdie keer is dit vandalisme se skuld,” het Stuurman gal gebraak.

’n Vrou wat verbygeloop het terwyl Son besig was met die onderhoud, het geskerts al die snaakse goed wat in die area gebeur, maak haar bang daar te woon.

Geleba sê hulle moet nou hulle vleis by ander mense berg. Volgens haar bly die goedgesinde vriende ver van haar huis, maar hulle moet maar stap wanneer hulle iets nodig het.

Teen druktyd kon geen munisipale woordvoerder nog opgespoor word vir kommentaar nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters