22 dae gelede
Krieketbaas by tiep beroof
BESEER: Die besering aan Donovan May (bo) se kop nadat hy dit gestamp het toe hy agteroor geval het.  ~ verskaf

ASOF die pandemie nie erg genoeg is om mee te deal nie, moet onskuldige inwoners nog deurloop onder booswigte wat hulle aanval en beroof.

Donovan May (56), president van OP Krieket, is erg getraumatiseer nadat hy dié naweek by die Arlington-stortingsterrein in die Baai met messe en pangas aangeval is.

May, wat sedert 2013 die president van OP Krieket is, sê hy sal sielkundige behandeling moet ontvang om met die trauma te deal.

Volgens May het die voorval gebeur toe hy Saterdag omstreeks 10:00 rommel by die Arlington-stortingsterrein in Walmer wou gaan dump. Hy het alleen in sy bakkie na die tiep gegaan.

May sê toe hy by die ingang van die tiep kom, het twee tot drie mans agter op sy bakkie gespring.

Volgens hom het hy dit nie vreemd gevind nie omdat dit gewoonlik mense is wat wil help met die aflaai van die rommel.

May sê toe hy by die weegbrug kom, was daar in daai stadium nie ’n security guard in sig nie.

Besef

Hy sê later het twee veiligheidswagte hom aangesê om dieper die tiep in te ry om sy rommel af te laai.

May sê toe hy eventually uit die bakkie klim om met die aflaai te begin, spring die drie mans van agter af – gewapen met lang messe en pangas.

Volgens hom het hy toe besef hy is in die moeilikheid.

Hy vertel toe die mans hom met die wapens bestorm, het hy teruggetree, agteroor geval en sy kop beseer toe dit teen iets gestamp het.

May sê terwyl hy hulpeloos daar op die grond lê, het die drie mans vir hom met hul wapens gekom, gereed om hom aan te rand.

Hy sê terwyl hy op die grond gelê het, kon hy daarin slaag om twee van die booswigte weg te trap.

Aangedring

Volgens hom het sy pepper­ spray in daardie stadium uit sy sak geval.

Hy sê dis toe dat die derde persoon, wat intussen in sy bakkie rondgekrap het, hom daarmee in die gesig gespuit het.

Volgens May het die boosdoeners aangedring op sy selfoon en beursie.

Hy sê toe hy hulle meedeel hy het dit nie op hom nie, het hulle sy goue ketting van sy nek afgeruk.

Volgens May was sy eyesight baie blurry nadat die pepersproei in sy gesig gespuit is.

Hy sê hy het toe ’n klip opgetel en hulle daarmee gegooi.

Volgens May het die boosdoeners nie opgegee nie.

Hulle het teruggekom vir hom met die messe en pangas. Dis toe dat hy dieper by die tiep inhardloop en om hulp skree. May sê sy kop het erg gebloei.

Volgens hom het twee mans wat op ’n heuwel gestaan het, die aanvallers weggejaag.

Hy sê sy aanvallers het met sy bakkie se sleutel weggekom.

May sê die twee mans het hom toe na die front office geneem. Daar het ’n vrou hom na sy huis toe geneem sodat hy sy bakkie se spaarsleutels kon kry.

Volgens hom het hy kort hierna hospitaal toe gegaan vir mediese behandeling.

May sê gisteroggend toe hy opstaan, toe was sy hele lyf nog seer.

Uitgesort

Volgens hom kon hy Saterdagaand nie ’n oog toemaak nie, want dan speel die voorval weer voor hom af.

Hy sê hy gaan nooit weer terug na die Arlington-tiep nie.

Volgens hom moet die security by die tiep uitgesort word.

Mthubanzi Mniki, polisiewoordvoerder, het nie op Son se navrae gereageer nie. Kapt. Sandra Janse van Rensburg, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n roofdossier is aangelê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters