13 dae gelede
Kopstukke op Khoi-koppie
Verenig: Die groep wat op die heuwel slaap, bid dat die bendegeweld tot ’n einde kom.  ~ 

DIT was gister hulle tweede aand op die historiese heuwel by die reservoirs van Uitbreiding 31, Bethelsdorp,

Die Khoisan-aktiviste hou by hulle woord – hulle gaan ’n hele week daar slaap om die Here se hulp in te roep.

Ten spyte van die winterkoue het die ses gisteraand weer hulle slaapsakke nader getrek en hulle so gemaklik gemaak as wat ’n mens op die klipgrond kan wees.

Hulle is moeg vir die voortdurende bendegeweld in die Baaise noordelike gebiede.

Teen die einde van Mei 2019 was daar reeds 91 noodlottige skietvoorvalle tot dusver dié jaar.

Chief Crawford Fraser het gesê nadat hulle alles probeer het, reik hulle weer uit na die Here.

“Die experience was divine,” het Fraser oor hulle eerste aand op die heuwel gesê.

“Ons moes die vuur doodmaak as gevolg van die sterk wind, so ons het baie koud gekry.

“Ek gaan al 25 jaar na daardie heuwel toe om te bid. Ons wil God se aangesig soek rondom hierdie ding. Ons kan nie meer staatmaak op die arm van vlees nie.”

Past. Jan Bekkies, ’n geestelike leier, het ook op die heuwel geslaap. Volgens hom is dit presies hier waar hulle voorouers geslaap en gejag het.

“Ons het heelaand heerlik gesels en ’n bietjie geconnect met ons voorvaders. Die Khoisan bid gewoonlik soggens 03:00. Dis toé dat die wind verskriklik begin waai het,” het hy vertel.

Hulle het gebid dat die inwoners se omstandighede verbeter. Volgens Bekkies het ’n pastoor van die Baai onlangs gesê hy’t ’n plaas naby Hankey.

“Hy het gesê ons is welkom om van die gangsters vir ’n paar weke daarheen te bring sodat hulle ’n bietjie dissipline kan leer.

Horings

“Ons beoog om ’n generaal van die weermag daar te kry sodat hulle 03:00 kan opstaan en die berg daar kan uithardloop.”

Die leiers beoog om elke dag met hulle bokhorings in Uitbreiding 31 te loop.

Sondag het jong mans hulle by die leiers se stapsessie geskaar – juis die groep waarop die leiers hulle toespits.

Hulle wil hê al die mans van die area moet hulle Saterdag by hulle aansluit wanneer hulle sewe keer om Uitbreiding 31 gaan stap.

Daarna sal hulle die houtkruise en kis verbrand wat hulle verlede jaar gemaak het en dan vir oulaas op die heuwel gaan dankie sê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters