23 dae gelede
Klubhuis ly groot verliese
Neville Brown  ~ Foto Verskaf

DIE Harlequins clubhouse by die Adcock-stadion in Korsten in die Baai het verlede week lelik deurgeloop toe booswigte tot op gym-toerusting en die rugbyspelers se truie gesteel het.

Die clubhouse in Korsten staan sedert die aankondiging van die nasionale lockdown te midde van die Covid-19-pandemie verlate.

Neville Brown, klubsekretaris, het gister gesê die verlies wat gely en die skade wat aangerig is, beloop van R40 000 tot R50 000.

Vlug

Hy het gister aan Son gesê die booswigte het toegang tot die clubhouse verkry deur onder meer via die skuifdeur die slotte af te kap.

Van hulle het toegang verkry deur die dak. Toegang is ook verkry deur ’n kantoorvenster te verwyder.

Volgens Brown het die boosdoeners met die volgende items op die vlug geslaan: ’n Boks met 14 rugbytruie wat behoort aan Harlequins se spelers, tussen 15 tot 20 gewigte, ’n verwarmer, eet­gerei, glase, kantoorstoele, ’n leë kasregister asook dakligte binne en buite die clubhouse.

Die skelms het egter ’n bloutjie geloop toe hulle by die klubhuis se kroeggedeelte kom, omdat daar nie ’n druppel alkohol was nie.

Hulle het hulself toe maar gehelp aan die kroeg-toerusting.

Volgens Brown is al die slotte van deure in die clubhouse afgebreek en deurhandvatsels is afgekap.

Hy sê die skelms het voorts al die krane – in die kombuis en badkamer – afgesteel. Hy sê die kombuiskaste is ook stukkend gebreek.

OMGEDOLWE: So het booswigte die gym omgekeer.

Volgens Brown is hulle liasseerkabinette ook in die voorval beskadig. Die toiletbakke is flenters gekap.

Hy sê ná die inbraak is die club­house se vrieskas buite die gebou aangetref.

Brown sê in die laaste drie jaar was daar altesame vier inbrake by die clubhouse.

Hy sê dis egter die derde inbraak vanjaar.

Brown sê by ’n vorige inbraak het die skollies op die vlug geslaan met onder meer ’n televisiestel, DVD-speler en radio.

Volgens Brown het hulle reeds ’n brief geskryf aan die munisipaliteit waarin hulle die stadsowerhede vra om die skade te herstel.

Hy sê hulle hoop ook op borge wat hulle kan help met items wat in die inbraak gesteel is. Volgens Brown beoog die spelers om hopelik op vlak 3 te begin oefen.

Die polisie kon teen gister nie die inbraak bevestig nie.

SKADE: Shaun Jantjies hou die deur vas van die yskas wat tydens die inbraak afgebreek is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters